Dit is nie toevallig dat my eerste plasing op Orania blog jare gelede juis die vraag van al die negatiewe scenario’s vir Orania wat nooit gebeur het nie, behandel het. Dit wys hoe sterk vrees vir die ergste onder ons mense teenwoordig is, iets wat seker verstaanbaar is in ʼn opset soos Suid-Afrika, met sy rassehaat, misdaad en ongelykheid. Gerugte oor massa-aanvalle verskyn gereeld en maak van ons mense bang. Iemand wat bang is, is ʼn maklike teiken. Daar is ʼn verskil om wakker te wees, risiko’s te erken en daarop te reageer aan die een kant, en om vol vrees en negatiwiteit deur die lewe te gaan en net altyd die ergste te verwag, aan die ander kant. Ons hoef ook nie altyd verlam te wees deur vrees vir die ergste nie, ʼn soort burgeroorlog/volksmoordscenario, terwyl die realiteit waarmee ons sit, met aanvalle en moorde elke dag, erg genoeg is en ons volle aandag verg.

Orania word gereeld betrek by sulke “wat as…?” scenario’s dat daar tientalle busse met gewapende EFF-lede op ons sou toesak en ons moet gereeld probeer om ons mense gerus te stel. Orania was van dag een af teen die stroom en ʼn doring in die vlees vir sommige, maar gaan vooruit. Ons doen waarskynlik iets reg en verreken die omstandighede sodat aanvalle op ons beperk is tot die verbale.

Wat doen ons dan reg dat Orania, al word dit dikwels as skelwoord in die media genoem, so veilig is? Nie hoë heinings nie, maar ʼn beleid van konsentrasie en eie arbeid, wat vreemdelinge wat inligting versamel of onrus stook nie eers moontlik maak nie. Paraatheid is natuurlik ook belangrik en ons het ons stelsels in plek, hier is ʼn veiligheidsdiens, inligtingsnetwerke en talle vrywilligers wat ook help en elke inwoner neem veiligheid ter harte en loop met oop oë rond en rapporteer alles wat verdag lyk.

Dit is inderdaad beter om vir die ergste scenario te beplan en dan gebeur niks nie, as om onverhoeds betrap te word. Dit is egter totaal teenproduktief om al jou energie en gedagtes net te konsentreer op “doomsday scenarios”. Dit is vir sekere mense ʼn soort stokperdjie om oor die einde van die wêreld te redeneer. Hoeveel rampe sou ons nie al getref het nie en ons lewe nog steeds. In Europa was veral in die 1980’s groot dele van die bevolking (veral onder die linksgesindes) meegesleur deur vrees vir ʼn kernoorlog of ʼn ekologiese ramp wat alles sou vernietig en dit het ʼn hele generasie verskrikte en maklik opsweepbare mense geskep wat die vrees aan hulle kinders oorgedra het.

Onder die Afrikaners is die plaaslike weergawe vir die ekologiese ramp die volksmoord-vrees. Net soos die vrees vir ʼn kernoorlog in die era van die Koue Oorlog nie ongegrond was nie, is die vrees vir ʼn volksmoord van ʼn minderheid in Afrika ook nie ongegrond nie. Dit kan egter nie jou hele lewensuitkyk bepaal nie. As aanhoudend oor elke fopnuus op facebook “alarm” geskreeu word, stomp ons mense af en kan nie meer onderskei tussen egte en valse dreigemente nie. Risiko’s moet nugter verreken word en mense moet betrokke raak by plaaslike veiligheidsaksies (en te veel van ons mense is nog nie betrokke nie) om eerder die daaglikse bedreiging hok te slaan. Vir die onwaarskynlike scenario van algehele chaos a la Ruanda is daar in elk geval geen kitsplanne nie, net so min soos jy planne kan maak as ʼn tsunami of ʼn vulkanuitbarsting jou tref. As jy egter reeds goed georganiseerd is, sal jy selfs ʼn onverwagse ramp redelik goed kan hanteer. Sekere rampe kondig hulle egter voor die tyd aan en jy kan die tekens lees en planne maak. Ook ʼn volksmoord of burgeroorlog is nie sommer net daar sonder enige tekens nie. As die tekens verdig, groepeer dan saam en trek na ʼn veilige plek toe. Presies dit verkondig ons al dekades lank vir Afrikaners.

Soos in enige nie-verklaarde oorlog is goeie intelligensie essensieel om risiko’s te kan beperk en betyds te kan reageer. Hoe groter die geografiese afstand, hoe beter die reaksietydperk. As jy langs ‘n plakkerskamp bly, het jy min kans om iets te doen teen ʼn massa-inval, maar Orania is juis om die rede ver van die sentrums van konflik geleë. Opgesweepte hordes het al (soos in Coligny en elders) “spontaan” die middedorpe, wat net stapafstand geleë is, aangeval, maar om ʼn aanval van Gauteng na Orania te loods vat organisasie en neem tyd. Duisende vlugtelinge of tientalle taxi’s met gewapende aanvallers waarvan so dikwels gepraat word val nie uit die lug uit nie en Orania se geografiese isolasie is ook ʼn belangrike bron van veiligheid. As daar ʼn burgeroorlog, sal die opgesweepte hordes in elk geval na die naaste woonbuurt of winkelsentrum stap en daar amok maak en nie eers vervoer reël en honderde kilometers na ʼn afgeleë Karoodorp ry omdat sy naam Orania is nie.

Ons het sekere gebeurlikheidsplanne in plek vir verskeie rampscenarios, maar ons kan uit die aard van die saak nie vir alles beplan nie. ʼn Burgeroorlog as die ergste scenario het so veel veranderlikes dat dit onmoontlik is om alles haarfyn te beplan. Ook in ʼn burgeroorlog is daar egter dele van die land wat min geraak word, en dit sal vir seker die Noord-Kaap en Orania wees.

Sonder dat daar ʼn burgeroorlog is (en ons almal bid dat dit nooit mag gebeur nie) is die huidige omstandighede van Suid-Afrika met sy swak ekonomie, hoë misdaad en Afrikaners wat orals veld verloor genoeg rede om ʼn alternatief soos Orania te ondersteun en om verhuising hierheen deel van jou beplanning te maak. Gelukkig het mense soos prof. Carel Boshoff al in die 1980’s gesien waarheen Suid-Afrika ontwikkel en daarom nie rampscenario’s verkondig nie, maar veral na ʼn alternatief gesoek. ʼn Mens moet egter ook nie net Orania toe trek omdat jy bang is vir jou veiligheid nie, maar omdat jy vry tussen jou mense as Afrikaner en Christen wil leef.

Deur: Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.