My oë gly oor die slapende dorp. Tussen my teue koffie, hier op die heuweltjie, bedink ek Orania.

Ek merk twee mense wat vroegmôre teen die monumentkoppie opstap, waar ‘n paar van ons voorvaders se borsbeelde pryk. Die Klein Reus wapper fier op die vlag, daarnaas, in die ligte bries. ‘n Paar honderd meter verder kronkel ‘n digte misstreep al met die rivierloop langs tot dit wegraak agter die koppies.

Netnou, as die oggendmis wegtrek sal dit moeilik wees om die loop van die rivier tussen die landskap se bome en heuweltjies met die oog te volg. Dan sal dit my weer herinner aan Dante, wat nie sy pad na die Bron kon vind nie en aan Vergilius, sy leermeester, wat tot sy hulp gekom het en hom uitgelei het. Vergilius het die lope van riviere tot by die Bron geken. Vir Dante was dit ‘n lang pad waar hy gekonfronteer was met homself – sy ondeugde en dwalinge. Hy moes baie stryde voer – fisies en geestelik uitmergelend – om donker kant van hom te oorkom sodat hy uiteindelik die Lig sou sien. Die Bron.

Skryf prof Danie Goosen in sy boek oor Gemeenskap en Plek: “Ten diepste word die begeerte om na die oorspronge van alles terug te keer deur herinneringe ontlok. Vanweë die herinnering aan die oorsprong, wat in die vesels van die geskape werklikheid weggebere lê, begeer dit ook om daarheen terug te keer. Sonder die herinneringe aan die oorsprong – volgens die tradisie ‘n byna ondenkbare toestand – sou die begeerte om terug te keer bykans onmoontlik gewees het.” En hy spreek die vrees uit dat in die moderne wêreld hierdie verlies aan herinnering, aan die oorsprong, ‘n werklikheid geword het.

Ook die moderne wêreld van die Afrikaner – nageslag is hierdie tendens nie gespaar nie en met hierdie verlies het ook die oortuiging dat ‘n volk ‘n lewensruimte nodig het om sy Christelike tradisies uit te leef, vervaag.

“Backpedaling into the future” het ‘n joernalis van ons gesê in die pioniersjare van Orania. Dit het met die jare al meer sin gemaak. Die Afrikaner is in ‘n proses waar die belewing van sy wording weer herbesoek word. Waar die hede nuwe vrae oor die verlede oproep en nuwe antwoorde die toekomspad verlig.

Orania is ‘n baken, ‘n rigtingwyser wat ons herinner aan waar ons vandaan kom, wie ons is en waarheen ons op pad is. Dit is die spil waar rondom ons – weliswaar broos – die ankertoue van ons volk weer vasmaak. In ons huise, skole en kerke word ons bevestig op hierdie pad – vol gebreke, maar met die groot moontlikheid dat ons dalk beter as ooit in ons geskiedenis begrond is.

Ons is hier in ‘n deurgang na die toekoms, waar paaie op en af in ons Christelike Afrikaner – tradisie weer ons hartsnare roer, ons laat tuiskom en saambind in ‘n gemeenskapslewe wat al ons fakulteite opskerp tot die ware die skone en die goeie. Waar ons filosowe, digters en skrywers as’t ware hierdie hartspaaie plavei, die transendente aan die immanente koppel, weer asem in ‘n taal blaas, in ‘n volkstuiste, ‘n hartstuiste en waar dit die steentjies word van die Via Appia, wat ons weer rig na en verbind aan die Bron.

So bid ons, werk ons, speel ons, dig ons, sing ons en in die woorde van die digter P. J Schoeman, “versamel ons herinneringe, mooi herinneringe vir die koue winternagte wat vir ons op die ver paaie wag”. ‘n Graad 3 dogtertjie het met die vyfjaarfees van Orania in digvorm in gesprek getree met die dorp:

Orania, my volkstaatdorp

jy het my land, my plek geword

in jou wil ek werk, in jou wil ek woon

in jou wil ek speel, in jou wil ek droom

so werk-werk, woon-woon

speel-speel, droom-droom

sal ek vir die wêreld sê: vir jou wil ek hê!

So maak ons weer vuurtjies langs die pad waar ons ons kan verwarm, ‘n rukkie stilstaan en ons medemens herken as ‘n gees-, gemeenskaps- en volksgenoot op die deurpad na vryheid.

‘n Paar duiwe vlieg met vlerkgeklap oor die dak en dagbreek tint nou die velde rondom en die dakke van die huise ‘n diep oranje goudkleur.

Winter haal nooit ‘n trekvoël in nie, lui ‘n spreuk teen die Orania Beweging se teekamermuur – ek onthou dit as ‘n aandenkings van ons Groot Trek 150 vieringe in 1988. Die tema was: Op trek na ons eie – in ‘n sin – waar volksbelewings herbesoek word om op te klaar in nuwe antwoorde en waar nuwe vrae weer agter die horison wag.

Aan die einde van die Camino de Santiago – die bekende pelgrimsroete in Spanje – is die Alfa- en Omegateken omgeruil op die muur van die St James katedraal, om hierdie begrip tuis te bring. St Clement van Alexandria praat van die Woord as “The Alpha and Omega of Whom, alone the end becomes the beginning and ends again at the original beginning without any break”. In Bybelse terme beteken dit: in Hom deur Hom en tot Hom is alle dinge.

Wat ‘n dorp! Wie sou ooit kon dink dat hierdie dorp – oorspronklik deel van ‘n dambouprojek om die Oranjerivier se waters maksimaal te benut vir die omgewing – ook ‘n oase sal word vir die Afrikaner se dors tot volkwees! In so ‘n mate dat dit vandag die hoop van ‘n Afrikanerstrewe huisves wat oorloop van energie en waarin huise en besighede soos paddastoele gedy.

‘n Dorp wat die Afrikaner motiveer om sy hoogste ideale na te streef – die strewe na skoonheid, waarheid en goedheid. Dat dit spreekwoordelik “die ark” sou word wat, in die woorde van NP van Wyk Louw, “die Kosbare en die Edele veilig deur die skare dra”!

Inderdaad. Ons kom van ver. Ons pad loop ewig.

Deur:Ester Le Roux/ Orania Blog


Leave a Reply