Jaco Kleynhans, Uitvoerende hoof van die Orania Beweging skryf:

“Die werklike tekens van hoop vir die Afrikaner lê op ’n minder materiële terrein en in besonder in ons mense se toenemende vermoë om buite die klassieke grense van Suid-Afrika en sy dinge na oplossings vir die toekoms te kyk. Hier verwys ek juis nie na emigrasie nie, maar eerder na die afskud van die beperkende visie wat die huidige politieke orde in Suid-Afrika vir ons inhou.

Afrikaners se bereidwilligheid om gedurende Oktober op ’n baie spontane wyse regoor Suid-Afrika aan die sogenaamde Swart Maandag-optogte deel te neem, was ’n baie goeie voorbeeld van ’n volk wat begin om sy eie reëls te maak.

Terwyl ons reeds vir meer as 25 jaar die Orania-idee aan Afrikaners voorstel, is daar juis weens ’n snelveranderende denke by Afrikaners die afgelope tyd ’n groterwordende herbesinning oor die idee van volwaardige Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap. Die Orania Beweging het vanjaar sy beste groei nog ooit beleef. Die organisasie se ledetal het met sowat 35% toegeneem, terwyl die omvang van navrae, besoeke, beleggings en ook mense wat na Orania getrek het, beduidend gestyg het.

Die idee van ’n werklik selfstandige gemeenskap, dorp, stad, volkstaat – noem dit wat jy ook al wil – waar Afrikaners gekonsentreerd saam woon, werk en leef is duidelik die enigste volhoubare en langtermyn oplossing vir die onsekerheid en vervreemding wat ons mense tans teister.”


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.