Van Wyk Louw se bekende aanhaling uit “Lojale Verset” (1939) lui: “Opstand is net so noodsaaklik in ’n volk as getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik dat ’n rebellie misluk nie; wat gevaarlik is, is dat ’n hele geslag sonder protes sal verbygaan.”

Verset was en is nog altyd teenwoordig in die Afrikaner se geskiedenis. Adam Tas se Vryburger-opstand teen ʼn onregverdige VOC – bewind was dalk die eerste voorbeeld daarvan. Later was die Slachtersnek-rebellie, wat ook as ʼn mylpaal van verset teen oordrewe en hardhandige owerheidsoptrede gesien kan word. Die Groot Trek was ook ʼn voorbeeld van verset deur middel van trek eerder as opstand. In die Boererepublieke was daar dikwels verset teen die regering deur verskeie faksies wat sterk gevoel het oor ʼn saak. Die verset het ongelukkig die Boererepublieke dikwels verlam, maar ook gekeer dat mag gekonsentreer raak. Die twee Vryheidsoorloë was weer voorbeelde van heldhaftige verset teen Britse manipulasie en oorheersing. Reg en vryheid het voorop gestaan. Skaars ʼn generasie na die einde van die Tweede Vryheidsoorlog was dit die 1914-rebellie teen die Brits-Suid-Afrikaanse inval in Duits-Suidwes-Afrika en teen Suid-Afrika se onderdanigheid aan Brittanje. Ook die taalstryd en die aksies van die vroeë Nasionaliste teen die Engelse oorheersing kan as verset gesien word.

Na 1948 het die tyd aangebreek waar die Afrikaners in beheer van die regering was en waar verset nie meer as nodig geag is nie. Meer nog, later, vanaf die 1960’ tot in die 1980’s, is verset aan verraad en ondermyning gelyk gestel. Dit is ook hoekom die politieke versetpoging van die HNP en later KP (en van linkse Afrikaanse enkelinge) so venynig beveg is. Verset het nou ʼn slegte naam gekry en is gelyk gestel aan die terrorisme van die swart bevrydingstryd. Verset teen die NP, al was dit vanaf behoudende Afrikaners, is gesien as iets wat die Afrikanervolk bedreig, selfs vernietig, en daarom is dit ook so meedoënloos beveg deur die polisie en NI.

Verset en rebellie is egter nie gelyk aan vernietiging en ondermyning nie. Verset is nie so seer ʼn fisiese daad nie as ʼn geestelike ingesteldheid. In diktatorskappe moet die vrye individue, nog meer as hy of sy deel is van ʼn onderdrukte groep, in verset wees teen die onderdrukker. Nie almal kan so ver gaan en fisies in opstand kom nie. Dit lei nie altyd tot die gewenste uitkoms nie en kan gevangenskap, aanranding en dood beteken. Verset kan egter uit vele vorms bestaan. Solank jou gees vry is en jy nie die propaganda van die onderdrukkers jou eie maak nie, is jy reeds in verset.

In ons tyd moet ons ‘n ingesteldheid hê van verset teen die heersende politieke korrektheid, die “transformasie-diktaat”, die verengelsing, die sekularisasie.

Die stigting van Orania was ʼn opperste daad van verset. Dit was en is alles wat teen die grein van die ANC-beheerde Suid-Afrika gaan: Afrikaans pleks van Engels; eie arbeid pleks van regstellende aksie; gemeenskapsekonomie pleks van swart ekonomiese bemagtiging en globalisering. Orania was en is egter verset in terme van die skep van ʼn alternatief, nie deur die afbreek van dit wat as bedreigend beleef word nie.

Dit onderskei die Afrikaner se manier van verset teenoor die swart nasionaliste se manier van verset. By laasgenoemde was en is die klem altyd op vernietiging: vernietig apartheid, rassisme, ongelykheid, bring Afrikaans, universiteite, klasgelde, standbeelde ensovoorts, tot ʼn val. Die logika dat, as jy nie hou van ʼn huis waarin jy woon, jy uittrek en vir jou eie een bou geld nie vir die swart nasionaliste nie. As jy nie hou van die huis nie, breek dit tot op die fondament af. Streng gesproke is dit wat swart opstandelinge pleeg, of hulle nou studente, vakbondlede of ontevrede plakkers is, ook geen verset nie, want hulle druk eintlik net die regering om nog vinniger en sonder in agneming van die reg hulle sosialistiese agenda uit te voer. Verset in ons tyd en veral in Suid-Afrika kan net behoudend wees.

Wat vir Afrikaners gevaarlik is, soos Van Wyk Louw sê, is as ons slaafs alles aanvaar wat met ons gebeur en die verbeelding verloor het dat ʼn ander lewe in vryheid moontlik is. Prof. Carel Boshoff was ʼn voorbeeld van iemand wat verantwoordelike verset gepleeg het. Hy het gewaag om teen die heersende orde, waarvan hy deel was, nee te sê toe hy sien dat dinge in ʼn rigting beweeg wat sal lei tot die uiteindelike prysgawe van die Afrikaner se beheer oor hulleself. Die verset het hom duur gekos: verlies aan inkomste en status, verwerping, verguising. Verset was egter nie net om nee te sê nie, maar om met ʼn beter alternatief vorendag te kom.

Orania is op talle terreine in verset, deur ʼn alternatief te skep wat wys dat die heersende ideologie nie onkeerbaar en alternatiefloos is nie. Daar is baie voorbeelde: die verset teen verengelsing is ʼn gemeenskap waar alles in Afrikaans gedoen word; die verset teen sekulêre staatskole is Christelike privaatskole; die verset teen misdaad is eie veiligheidstrukture en veral eie arbeid; die verset teen Afrikaner-armoede is eie maatskaplike strukture en eie arbeid; die verset teen demografiese verswelging is konsentrasie in ʼn yl bevolkte streek; die verset teen swak dienste is eie instellings wat dit voorsien en wat self gefinansieer word; die verset teen ‘n gesentraliseerde skyn-demokrasie is direkte, nie-politieke verkiesings en burgerlike deelname.

Deur:Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.