1. ʼn Werkbare plan vir die tyd na magsverlies

Toe die Orania Beweging onder die naam Afrikaner-Vryheidstigting op 21 Maart 1988 deur prof. Carel Boshoff en ʼn klein groep medestryders in sy huis in Pretoria gestig is, is dit deur destydse waarnemers waarskynlik gesien as “net nog ʼn regse organisasie” in ʼn tyd waar die Broedertwis tussen die sogenaamde verligtes en verkramptes op sy hoogtepunt was. Dit was die tyd van die opgang van die KP en AWB op politieke terrein, die APK en BCVO op godsdiens- en onderwysgebied en Afrikaner-Volkswag en ander op die kultuurterrein. Die doel van die organisasies was om die noodlottige pad van die NP-regering na swart magsoorname te stuit.

Alhoewel die Afrikaner-Vryheidstigting deel van die “regse kraal” was, was die organisasie fundamenteel anders. Feitlik alle organisasies was gerig daarop om ʼn scenario van swart magsoorname, oftewel ʼn hervormingsproses wat daarop sou uitloop, te keer. Dat so ʼn scenario denkbaar was, is daarby nie in berekening gebring nie. Die strategie was om die koersverandering van die NP en sy stutorganisasies aan die volk uit te wys en om hulle van die NP-kant oor te haal na die regterkant toe. Net die Afrikaner-Vryheidstigting het reeds gesien dat die destydse bestel onvolhoubaar was en dat ook ʼn KP-regering nie vir altyd die al hoe groter druk van alle kante vir ʼn nuwe bedeling sou kon weerstaan nie. Die Afrikaner-Vryheidstigting was in wese die enigste organisasie wat oor die berg kon kyk, en wat ʼn plan gehad het hoe Afrikaners in vryheid kon voortbestaan selfs al verloor hulle beheer oor Suid-Afrika. Vir al die ander was magsverlies gelyk aan die einde van die volk. Hulle het geskreeu: ”Dit is 5 voor 12, word wakker”, die Afrikaner-Vryheidstigting het geroep: “Ons het ʼn plan vir 5 na 12”.

  1. Die regte mengsel van idealisme en realisme

Vir die Afrikaner-Vryheidstigting het vryheid vir die Afrikanervolk, wat beteken om jou eie besluite te kan neem en te kan uitvoer, altyd sentraal gestaan. Dit was en is ʼn ideaal-gedrewe beweging. Vryheid is seker deur al die tye onder alle volke die grootste dryfkrag tot heldedade en opoffering. Die Afrikaner-Vryheidstigting het egter geweld as middel om dit te bereik afgekeur (anders as menige “bevrydingsbewegings” in Afrika), maar wou en wil dit deur harde werk, regte keuses en vreedsame naasbestaan bereik.

ʼn Ideaal alleen, sonder ʼn realistiese plan, is egter ʼn lugkasteel. Talle organisasies praat oor vryheid asof dit uit die lug uit val en asof jy net reg moet stem. Om vryheid te bereik is egter ʼn lang en moeilike pad en jy moet dit ook nie bereik ten koste van ander se vryheid nie, want dan verloor jy geloofwaardigheid en word jou vryheid uitgedaag.

Die Orania Beweging het van die begin af gesê dat die bereiking van vryheid ʼn lang en harde pad vol opofferings is, en het daarom ook nooit massasteun gekry nie. Die massas soek vinnige oplossings en wil nie graag iets daarvoor doen nie. Die pad na vryheid vir die Afrikaner beteken egter die wegdoen met goedkoop arbeid en die gerief daarmee saam en die verbintenis tot selfwerksaamheid en die afsien van die hele Suid-Afrika vir ʼn kleiner grondgebied in die yl bevolkte en harde Noord-Kaap.

  1. Die Orania Beweging het iets om te wys

Daar is talle Afrikaner-organisasies en partye met baie planne. Min van hulle het iets om te wys. Die Orania Beweging het wel behoorlike navorsing gedoen en het ʼn stewige teoretiese onderbou, maar dit het nie daarby gebly nie. Die teorie moes in praktyk uitgevoer gaan word. Daar moes gewys word dat ʼn Afrikanerstaat in die kleine, met eie arbeid, eie instellings en eie bestuur ook in praktyk kon werk, op eie grond. Orania is aangekoop en ontwikkel. Dit is wel nog nie die einddoel van die Orania Beweging nie, maar ʼn belangrike mylpaal. Soos wat die tyd aangestap het, kon die Orania Beweging toenemend spog met Orania en het die ideale en planne meer en meer realiteit geword. Orania is nou ʼn realiteit wat nie meer ongedaan gemaak kan word nie.

 

  1. Die Orania Beweging pas aan by omstandighede aan sonder om beginsels en die ideaal prys te gee.

Van die talle Afrikanerorganisasies wat in die ou bedeling gestig is, het min tot vandag oorleef, en nog minder is nog herkenbaar. Die KP en NP het verdwyn, die AWB bestaan net nog op papier, die AB het talle veranderings ondergaan en is net nog ʼn skaduwee van wat dit eens was, AHI en ATKV is vandag iets heel anders as waarvoor hulle gestig was. Die een groep het geen plan anderkant die ou Suid-Afrika gehad nie en kon nie die einde daarvan lank oorleef nie. Die ander was so pragmaties en aanpasbaar dat van hulle net nog ʼn naam oorgebly het, met ʼn heel ander wese en doelstelling. Die Orania Beweging het wel sy naam aangepas (van Afrikaner-Vryheidstigting na Orania Beweging) en ook sy retoriek by die veranderende omstandighede, maar nie sy doelstellings en ideale nie. Dit verleen geloofwaardigheid en hou die ondersteuners lojaal. Die Orania Beweging is ook nie skaam oor sy stigters en sy verlede nie. Hulle het gedoen wat hulle moes onder die omstandighede van die tyd, en so doen die Orania Beweging dit ook vandag.

Deur:  Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.