Op 19 Junie 2007 het ’n beraad in Orania plaasgevind met die tema: “Die grondvraag: langtermynkeuse vir die Afrikaner.” ’n Sinvolle publikasie onder redakteurskap van Prof. Carel Boshoff het kort na die beraad verskyn met ’n voorwoord en die teks van al sewe toesprake wat op dié dag gelewer is.

Prof. Boshoff lei die publikasie in met: “Die grondberaad op 19 Junie 2007 het plaasgevind teen die agtergrond van die grondhervorming, grondeise en swartbemagtiging wat in Suid-Afrika plaasvind. Gepaardgaande daarmee het die plaasmoorde wat ’n skrikbewind geword het, steeds toegeneem.”

Op die oogaf lyk hieride inleidende twee sinne soos iets wat gister of vandag oor gebeure vroeg in 2018 geskryf kon word. Die werklikheid is dat wat nou vir ons nuut lyk, omdat ons dit nou as dreigend ervaar, reeds vir jare met ons is. Reeds vir meer as twee dekades is die grondhervorming, grondeise, swartbemagtiging en plaasmaarde  waarvan Prof. Boshoff in 2007 geskryf het, met ons.

Tydens die beraad van 2007 het een van die sprekers na die uitdagings vir Afrikaners in die Nuwe Suid-Afrika as ’n skroef wat al hoe vaster gedraai word, verwys. Vandag weet ons dat die skroef in 2007 stywer vas was as in 1994, maar dat hy in 2018 nog heelwat stywer vas is as in 2007. Hoe lank kan die skroef stywer gedraai word voordat die Afrikaner soos ’n sagte stukkie hout meegee en versplinter?

Carel Boshoff (iv), tans president van Orania Beweging en seun van Prof Boshoff het by die beraad in 2007 die volgende opmerking gemaak: “Sonder grondgebied is daar op die duur geen volk nie.” Hy gaan voort om die kritiek teen die Orania-plan soos dat baie Afrikaners dit vir lank as ‘onuitvoerbaar’ beskou het, te bespreek. Maar Orania en die idee van Afrikanerselfbeskikking in die Noordwes-Kaap het nooit ontstaan omdat dit die maklikste plan vir die Afrikaner was nie. Dit het ontstaan omdat dit die beste plan was, gebaseer op dekades se navorsing, wetenskaplike ontledings en ’n besef dat ’n volk sonder ’n eie grondgebied uiteindelik nie meer ’n volg gaan wees nie.

Elke internasionale voorbeeld van volkere wat oorleef en volkere wat nie oorleef het nie of besig is om op te hou om bestaan, dui op die belangrikrikheid van ’n eie grondgebied. ’n Eie grondgebied behels meer as blote grond. Dit behels mense, instellings en middelle wat ekonomiese-, kulturele en ander aktiwiteite op die grond laat blom. ’n Eie grondgebied bied ’n volk die selfvertroue om te weet dat sy eie voortbestaan nie van ander volkere se goedgesindheid afhanklik is nie.

Met ons organisasie wat vanjaar 30 jaar oud is, vra ons, onsself ook af: Nou wat het die afgelope drie dekades gebeur? Is die skroef maar net onverwyld vaster en vaster gedraai? Het Afrikaners dit maar net gelate begin aanvaar? Is die hoop op ’n eie grondgebied nou heeltemal vervaag?

Nee. Wat die afgelope paar jaar gebeur het, is dat Afrikaners eers hul mag moes verloor en deur ’n donker pad van druk, vervreemding en selfs inleidende uitwissing moes stap, voordat selfs net die eerste treë na ’n besef van wat regtig nodig is, afgelê kon word. Hoewel ons die afgelope drie dekades baie verloor het, het ons ook begin om binne kragtige instellings te hergroepeer en onsself as gemeenskap te mobiliseer. Ons het nuwe vaardighede aangeleer, ons plek in die wêreld met groter nugterheid, maar ook met ’n wete van potensiaal, begin inneem en besef dat ’n ylverspreide, voorheen dominante volk sonder ’n bevolkingsentrum, ’n eie grondgebied, ’n eie stad met hoë funksies, finaal gedoem is.

Die Afrikaner is in die moeilikheid, maar daar is ook baie rede vir hoop. Die moeilikheid sal vererger indien ons mense toenemend finaal besluit om ons volk se voortbestaan nie meer hoog aan te slaan nie. Dan sal ons soos sagte, selfs verrotte hout, versplinter en wegdobber.

Ek glo egter dat die alternatief gaan gebeur. Orania het nie verniet die afgelope tyd sterk groei begin toon nie. Afrikaners het nie verniet die afgelope tyd met nuwe ywer na wat hier gebeur begin kyk nie. Daar is goeie rede waarom talle Afrikanerorganisasies sterk groei toon, ons vir die eerste keer as volk ons eie oplossings vir onderwys, tersiêre onderrig, veiligheid en selfs hoër kultuurfunksies begin skep.

Orania en ons idee was altyd reg. Ons kan seker kwaad wees vir ons eie mense dat hulle nie al in 1991 of in 1999 of selfs 2007 in groter getalle dit wou besef nie, maar dalk was die pyn van die afgelope jare en die verlies wat ons mense steeds daagliks beleef juis nodig om ons mense aan ’n nugtere Orania-poging te laat meewerk.

In daardie toespraak uit 2007 het Carel Boshoff (iv) ook gesê: “Wie het gesê elke geslag neem verantwoordelikheid vir sy eie tyd? Hierdie is ons tyd. Ons staan soos met waens gepak op die oosgrens, gereed om die onbekende in te trek op soek na die ontwykende vryheid waarvan ons soms nie sal weet hoe dit lyk as ons dit sien nie, maar op die horison van die geskiedenis wink ’n republiek vir ons kinders. Ons staan vandag met die ongelooflikste geestesgoed tot ons beskikking: ervaring, opleiding, tegnologie, skakelvaardighede, politieke vernuf, vindingrykheid, vriendskap, deursettingsvermoë, visie. Ons is soos kinders wat die beste onderwys en opvoeding ontvang het, al het ons nie die plaas geëerf nie. Hoe lank sal dit ons onder hou?”

Die Afrikaner het sy eie grondgebied nodig. Die Afrikaner het Orania nodig. Die stad Orania, die volkstaat Orania, die lewenskragtige ekonomiese en kultuursentrum wat ’n volk laat leef en voortbestaan. Daar was in 1991, 1994, 1999 en 2007 geen beter opsie nie. Vandag is dit net duideliker as toe.

Deur:  Jaco Kleynhans/Oranie Blog


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.