Vergun my die volgende kommentaar puntsgewys op die artikel Skotland en ‘n Afrikaner “vrystad” deur Flip Buys:

Soewereiniteit is nie deelbaar nie. Soewereiniteit in die volkereg beteken staatkundige / politieke onafhanklikheid. Binne erkende landsgrense kan daar net een soewereiniteit wees, gesetel in die verkose sentrale regering.

So bv., hoewel die Amerikaanse deelstaat Kalifornië die sewende grootste ekonomie ter wêreld het, is dit nie soewerein nie – dié berus by die Amerikaanse federale regering. Onder sekere omstandighede kan ‘n gedeelte van ‘n land of staat wel afskei, soos bv. Suid-Soedan van Soedan en indien dan aan bepaalde vereistes voldoen word, word ‘n splinternuwe staat gevorm met sy eie soewereiniteit – terwyl die moederstaat sy/haar eie soewereiniteit behou.

Die term selfbeskikking is nie altyd duidelik omlyn nie, maar verwys meesal na ‘n volk om seggenskap oor homself te hê – dus eintlik word bedoel verwesenliking van eie soewereiniteit. Daaraan gekoppel is die term vryheid – in hoogste vorm behels dit die situasie waar ‘n volk op eie grondgebied demokraties oor sy eie lot beslis – dus weereens verwesenliking van soewereiniteit.

Vryheid is in die gene van die Afrikaner. Dit word bewys uit sy geskiedenis. In die boek Offerland van FA Venter word verhaal dat die dag toe die Voortrekkers opgepak het om terug oor die Drakensberge weer die binneland in te trek, het die karakter Meester as meereisende onderwyser, voor die klas gestaan en die swartbord skoongevee. Hy draai toe om na die kinders en sê vir hulle: “Vergeet alles wat ek julle ooit geleer het. Onthou net hierdie een ding.” Hy draai toe na die bord en skryf daarop in groot letters: “Vryheid”.

Die konsep van volk. Uit die Woord is dit duidelik dat bepaalde samelewingsverbande die wil van God is – huwelike tussen man en vrou, gesinne met ouers en kinders, families met voorgeslagte en volke volgens hul geskape etnisiteite. Hieruit kry ook die Afrikaner as volk sy beslag – ‘n konsep wat egter in ons dag deur die Bose so ver as moontlik afgetakel word.

Daarom is dit nodig, meer as ooit, dat die Afrikaner weer sy volkskap ontdek, daarvan eienaarskap neem en dit met trots uitdra. Dit het niks met diskriminasie te doen nie, maar is bloot erkenning van die geskape werklikheid. Ander etnisiteite word gerespekteer en terwyl elkeen sy plek in die son gegun word, eis die Afrikaner ook syne op.
In die lig van die voorafgaande is dit duidelik dat daar vandag ‘n skeidslyn loop deur die Afrikaner as volk: Aan die een kant diegene wat steeds glo hul heil en toekoms lê in die groot bont sg. “reënboog” Suid-Afrika. Dit is egter die SA wat vandag lyk soos dit lyk.

Aan die ander kant is daar diegene wat glo dat selfbeskikking, uiteindelik in ‘n soewereine, selfstandige en volhoubare Afrikanerstaat die enigste opsie is vir oorlewing en uitlewing van Afrikanervolkskap. Vir hierdie doel sal daar noodwendig op regmatige grondgebied gekonsolideer en uitgebou moet word – laertrek as jy wil.
Dit is die onontwykbare keuse wat elke Afrikaner vandag in die gesig staar. Daar is nie iets soos “kulturele selfbeskikking” of “vry” tussen aanhalingstekens nie.

Onverklaarde burgeroorlog. Sedert 1994 is in SA regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, kwotas, plaasmoorde, terroristiese aanvalle, ‘n hemelhoë stapel diskriminerende wetgewing om die swart meerderheid teen die blanke minderheid te beskerm, niks anders as onverklaarde burgeroorlog teen blankes / die Afrikaner nie.
Dít gesien tesame met toenemende swart politieke radikalisme, ongelooflike korrupsie en die verval van infrastruktuur tot menslik-gesproke onredbaar – wie sien nog in die huidige SA ‘n rooskleurige toekoms vir die Afrikaner?

Wat grond betref, is, eerstens grondgryp gronddiefstal. Punt. Daarmee saam moet egter realisties besef word dat vir sy voortbestaan as volk, die Afrikaner êrens op een stuk grondgebied sal moet konsolideer. Dít kan verkry word uit onderhandeling met die regering van die dag, met dien verstande dat die Afrikaner ‘n onvervreembare reg het op ‘n gedeelte van SA as hul vaderland. In hierdie opsig leen die Noordwes-Kaap onder die omstandighede sigself die beste.

Te Orania en die omliggende aangekoopte grond, beskik die Afrikaner de jure en de facto reeds oor eie grondgebied wat as ononderhandelbare basis kan dien.

Emigrasie is nie die antwoord nie. Die Afrikaner het geskiedkundig, juridies en prakties ‘n onvervreembare reg op SA of dan ‘n gedeelte daarvan as hul vaderland. Daarby is daar emigrasie sonder prysgawe van volkskap nie.

Hoekom regeer die ANC vandag oor die Afrikaner? Net een rede: Getalsoorwig. Hulle is nie beter nie en verdien dit nie op meriete nie. Die ANC is Godloos, korrup tot in die kern en in wese terroristies. Volgens die Woord sal die goddelose nie wen nie, maar wel die gelowiges.

Dus hoekom padgee uit SA?

Daar is ‘n wesentlike verskil tussen stadsbou en staatsontwikkeling. ‘n Stad fokus op plaaslike dienste – munisipale sake – en bly te alle tye onderhorig aan die (soewereine) sentrale regering. ‘n Staat daarenteen vereis ander organe, soos demokrasie, trias politica, burgerskap, toegangsbeheer, wet en orde, arbeidsreëlings, ekonomiese ontwikkeling, eksterne verhoudinge, ens. en beweeg hierin aan na uiteindelik soewereiniteit.

Om saam te vat, die Afrikaner is huidig by ‘n kruispad soos nog nooit in sy geskiedenis nie. Wat dit betref, is uit die voorafgaande die vraag eenvoudig: Is daar ‘n beter keuse as konsolidasie en ontwikkeling te Orania en omliggende gebied tot ‘n soewereine, vrye, suksesvolle en volhoubare volkstaat?

So ‘n volkstaat is moontlik indien dit in geloof gegrond word op al die beloftes in Gods Woord, een waarvan vervat is in Jesaja 43:18-19: Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.

Deur: Johann Dannhauser / Orania Blog


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.