Op 16 Desember was Geloftedag gevier  in Orania, en talle Afrikaners oor die hele land heen. Dit herdenk die Slag van Bloedrivier, waar minder as driehonderd Voortrekkers onder leiding van Andries Pretorius aan die magtige Zoeloeweermag van koning Dingaan ʼn geweldige neerlaag toegedien het, in reaksie op die moorde op Piet Retief en sy afvaardiging, en die weerlose vroue en kinders wat in die laers agtergelaat is. Hulle het ‘n belofte aan God gemaak om die dag vir altyd soos ‘n Sondag te herdenk as hulle die oorwinning sou behaal. So vêr die feite in ʼn neutedop.

Soos met alles wat die Afrikaner doen, is daar natuurlik ook kritiek op die viering van Geloftedag, sowel uit die kringe van ander volke, asook uit die kringe van mede-Afrikaners.

Hoe antwoord ons op die mees algemene aantygings soos die volgende?

Maak dit enigsins sin om iets te herdenk wat so lank terug lê en niks meer met ons huidige lewe te doen het nie?

Wel, om te herdenk is per definisie om iets in herinnering te roep wat lank terug lê, maar wat van so ʼn aard was dat dit ook latere geslagte se verbeelding aangryp en hulle emosies wakker maak. Elke volk het gebeure in die verlede wat as “Stigtingsmite” beskryf kan word en wat jaarliks as nasionale feesdag herdenk word, sy dit die onafhanklikheid van die staat, ʼn belangrike veldslag, ʼn revolusie of verdrywing van ʼn tiran, selfs ʼn vernederende neerlaag. Alhoewel ʼn land of volk se geskiedenis nie stilstaan nie, kan ʼn mens ook nie aanhoudend nuwe gebeure herdenk nie, dan is dit nie meer ʼn stigtingsmite en word arbitrêr.

Dit bring ons by die volgende kritiek teen Geloftedag, naamlik

Hoekom vier ons iets wat so gewelddadig was en waar so baie bloed vergiet is?

Bloedrivier was, soos die naam al sê, ʼn bloedige gebeurtenis. Sommige moderne historici voel daaroor ongemaklik, omdat dit aanstoot gee of sou gee aan die oorwonne volk om die grootskaalse dood van jou vyande te vier. Daarop kan geantwoord word dat min draaipunte in die geskiedenis van ʼn volk sonder bloedvergieting plaasgevind het, en dat daardie draaipunte nooit onomstrede en vir almal tot voordeel was nie (dink aan Bastilledag in Frankryk, of die talle vieringe van onafhanklikheidsoorloë wat met bloedvergieting gepaard gegaan het). By Geloftedag word ook nie die dood van duisende Zoeloe-krygers gevier nie, maar die Godgegewe en menslik gesproke onmoontlike oorwinning van die Voortrekkers oor ʼn volk wat hom sou vernietig het. Die Zoeloes is verslaan en hulle militêre en politieke mag was vir eers gebreek, hulle is egter nie as volk uitgewis nie. As hulle, wat verraad teenoor Piet Retief en sy volgelinge gepleeg het, die slag gewen het, dan was dit waarskynlik verby met die Afrikanervolk ten minste in die noordelike deel van die land. Toegegee, die Natal-trek was nie die enigste trek nie, maar ʼn neerlaag vir die Voortrekkers by Bloedrivier sou waarskynlik die hele Groot Trek gedoem het. Bloedrivier is beskou as God se seën op die Voortrekkers en Sy wil om die noordelike deel van Suid-Afrika te bevolk en te ontwikkel tot Sy eer. Vir seker het die Voortrekkers nooit so naby aan God gevoel soos tydens en na Bloedrivier nie. Die besondere rol van geloof in die Afrikanervolk word ook hierdeur uitgelig.

Is daar nie beter gebeure in ons verlede om te herdenk nie? Hoekom staan Geloftedag uit bo Stigtingsdag, Krugerdag, Majubadag, Republiekdag en ander?

Die vraag word dikwels gevra hoekom ʼn gebeurtenis so uitlig word wat net een aspek van die Afrikaners, naamlik die Groot Trek, herdenk. Hoekom nie eerder die koms van Jan van Riebeeck, of die ontstaan van Afrikaans, of Republiekwording, te herdenk as hooffeesdag nie?

Al daardie gebeure is in die verlede herdenk en word vandag nog in Orania en onder volksgesinde Afrikaners herdenk. Dit kan egter nie aan ʼn volk voorgeskryf word watter van die herdenkingsdae of geskiedkundige gebeure hulle die meeste aangryp nie. Dramatiese gebeure wat ʼn volk se oorlewing of ondergang bepaal, gryp mense eerder aan as ʼn blote handeling van iemand uit die elite. Die stigting van die Nederlandse kolonie was belangrik, want dit was die begin van die Nederlands-Afrikaanse teenwoordigheid in Suid-Afrika. Die gebeurtenis was egter ʼn administratiewe handeling van ʼn VOC amptenaar. Die formalisering van Afrikaans as taal was belangrik, maar dit was aanvanklik iets wat veral ʼn paar intellektueles betref het. Paul Kruger se verjaarsdag is belangrik, maar hy was net een van talle historiese persoonlikhede. Die twee vryheidsoorloë was belangrik, maar die oorwinning van Majuba kon Transvaal se onafhanklikheid nie lank verseker nie, en die Tweede Vryheidsoorlog was veral troumaties vir die Afrikaner en is niks om te vier nie. Republiekdag verteenwoordig die Afrikaner se toppunt van mag en selfseggenskap, maar dit was ʼn verandering van wette en simbole, nie ʼn waterskeiding nie, en was ook nie van lange duur nie.

Bloedrivier was ʼn waterskeiding. As dit nie was nie, sou dit nie 100 jaar later groot getalle van die volk so aangegryp het met die Groot Trek 100 herdenking nie, wat uitgeloop het op die Afrikaner se merkwaardigste monument, die Voortrekkermonument en op die oorwinning van die Nasionale Party, en wat nog 50 jaar later weer groot getalle Afrikaners aangespoor het om soos die Voortrekkers na hulle vryheid te trek. Orania, terloops, is ʼn uitvloeisel van die Groot Trek 150 herdenking. Omdat die dag vir die Afrikaner so belangrik was en nog steeds is, moes selfs die ANC dit erken in die vorm van die amptelike vakansiedag op 16 Desember, al word dit Versoeningsdag genoem.

Dit bring ons by nog ʼn gereelde beswaar:

Is die viering van ʼn bloedige veldslag tussen wit en swart nie nadelig vir versoening nie? Moet ons nie juis versoening vier en iets herdenk wat alle Suid-Afrikaners saambind en ʼn gesamentlike Suid-Afrikaanse nasionalisme bou nie?

ʼn Suid-Afrikaanse nasionalisme kon nog nie werklik ontstaan nie, juis omdat daar nie iets soos ʼn Suid-Afrikaanse volk is nie. Poginge om dit deur middel van simbole soos die nuwe vlag, die volkslied Nkosi Sikelele en mnr. Mandela, wat almal eenheid beklemtoon, of deur middel van sport reg te kry, het nog nie geslaag nie. Die geskiedenis van Suid-Afrika kan ook nie ongedaan gemaak word nie. Natuurlik kan en moet probeer word om ook gemeenskaplikhede te vind wat ʼn vreedsame naasbestaan moontlik maak. Die beste manier vir vreedsame naasbestaan is egter respek vir en erkenning van mekaar se kultuur en geskiedenis en die reg van elke volk om sy erfenis te vier. Net soos wat swartmense moet aanvaar dat ons ʼn oorwinning oor die Zoeloes vier as ons sleutelgebeurtenis, moet ons aanvaar dat die “struggle” en die 1994 verkiesing vir hulle ʼn stigtingsmite is, al het ons dit negatief beleef.

Hoekom iets vier wat nie vir alle Afrikaners (soos Kaapse Afrikaners) relevant is nie?

Daar word gesê dat die Voortrekkers net ʼn klein groep van die Afrikaners verteenwoordig, en die trekgeselskap van Piet Retief selfs nog ʼn kleiner deel. Vir die Afrikaners wat nie nasate van die trekkers is nie, soos diegene in die Kaap, sou Geloftedag dus irrelevant wees.

Daarop kan geantwoord word dat by enige volk se “Stigtingsgebeurtenis” net ʼn minderheid betrokke was. Wat belangriker is as die direkte nakomelingskap van die helde is eerder die vereenselwiging met die gebeurtenis. Min Amerikaners is nakomelinge van diegene wat in die Vryheidsoorlog teen die Britte geveg het, maar elke opregte Amerikaner is trots op die vryheidstryd en die onafhanklikheidsverklaring. Dieselfde geld ook vir Geloftedag: diegene wat hulleself met Geloftedag kan vereenselwig en dit hou as ʼn Sondag, is Voortrekker-nakomelinge in die gees, al is min nakomelinge in die vlees.

Deur: Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.