Vriende en kamerade – mede-Oraniërs, mede-Afrikaners en medestryders vir die vryheid van ons volk

Dit is ’n besondere geleentheid om by wyse van hierdie samekoms die gebeure van 30 jaar gelede, toe die Afrikaner-Vryheidstigting in die lewe geroep is, te herdenk. Terwyl dit 30 jaar gelede netso onmoontlik was om vooruit te sien presies waar ons vandag sou wees as wat dit vandag is om presies te weet waar ons oor nog 30 jaar sal wees, is dit vanaand wel moontlik om ons gedagtes oor die afgelope drie dekades te laat gaan en die onbekende uitdagings wat voorlê aan die hand daarvan tegemoet te gaan.

As die verlede ’n aanduiding is van wat in die toekoms verwag kan word – en daar is goeie rede om van dié veronderstelling uit te gaan – dan is die een eienskap waaroor ons moet beskik, avontuurlus (waarby inbegrepe verbeelding, want sonder ’n sterk verbeelding maak avontuurlus eintlik nie sin nie.

Sedert daardie herfsaand in Pretoria 30 jaar gelede toe ’n klein groep Afrikanerdenkers met ’n dringende krisisbewussyn byeengekom het, het Afrikaners se leefwêreld bykans onherkenbaar verander. Hierdie verandering is deur baie met vrees tegemoet gegaan, deur ander met bitterheid, terwyl sommige dit eenvoudig probeer ontken of ignoreer het. (Dan laat ons buite rekening dat daar diegene onder ons Afrikaners was wat verheug was omdat dit is waarvoor hulle hulle beywer het, maar hulle het kennelik die minste geweet wat om te verwag.)

Ons voorgangers daarenteen, het die veranderings met ’n kombinasie van werklikheidsbesef, afwagting en inisiatief tegemoet gegaan – in ander woorde: met verbeeldingryke avontuurlus. Hulle het planne gemaak, hulle het nuwe moontlikhede sien oopgaan daar waar ou wense toegegaan het, hulle het ’n realistiese krisisbewussyn geopenbaar, maar hulle nie daardeur laat verlam nie. En die feit dat hulle ’n klein groepie was, het hulle nie van groot gedagtes laat terugdeins nie.

Dit, liewe strydgenote, is die skoene wat ons vandag moet volstaan! En terwyl ons dit probeer doen, kom ons doen wat hulle ook gedoen het onder die drukkende omstandighede wat hulle byeenkoms gekenmerk het: kom ons besin. Ek wil dit onder drie opskrifte doen, en onder elke opskrif wil ek drie punte aansny. Die opskrifte is eenvoudig: Waar ons vandaan kom, Waar ons vandag is en Waar ons heen gaan. (En laat ek u dadelik gerus stel: ek gaan oor niks alles probeer sê nie, en ook nie oor alles iets nie. Ek gaan maar soveel probeer sê as wat nodig is om by ’n bepaalde gevolgtrekking uit te kom.

Eerstens dan: Waar ons vandaan kom

Hieroor is daar al boeke geskryf, is daar al gewroeg en is daar al gejubel. Ek gaan nie een daarvan probeer doen nie – met die hoop dat ons by tye van ons heildronke genoeg kans vir gepaste jubeling sal kry. Ek wil wel een ou punte herhaal, een nuwerige punt onderstreep en een splinternuwe punt ter oorweging gee.

Die eerste punt is een wat my pa dikwels, en nie alarmisties soos dit mag klink as mens daarna luister nie, gemaak. Dit het vir hom die erns en diepte van ons destydse krisis beskryf en vandag is dit soos ’n professie wat in vervulling gaan. Hy het gesê dat ’n volk in ons omstandighede en wat nie ’n plan maak om homself te beskerm nie, kan verwag om aan drie aksies onderwerp te word – met hoogstens die keuse vir individuele lede van watter een hulle verkies. Afrikaners wat hulle nie tot ’n volkstaat wend nie, kan verwag om aan inlywing, uitdrywing of uitwissing uitgelewer te word.

Inlywing by wyse van privatisering of immigrasie na binne, verswyging van jou identiteit of “bedanking as Afrikaners”, of eenvoudig inpas en aanpas om nie deur die nuwe orde uitgestoot te word nie. Dink bietjie hoeveel mense wat julle ken, voldoen aan dié beskrywing… Uitdrywing by wyse van ontsegging van geleenthede en deelname, byvoorbeeld deur “Regstellende Aksie” en Swart Bemagtiging, en uiteindelik deur vrywillige of gedwonge emigrasie. Dink bietjie hoeveel familie en vriende het julle oorsee… En uitwissing? Dink maar aan hoeveel mense nooit die kans gaan hê om ’n alternatief te skep vir wat hulle te beurt geval het nie…

Die tweede punt waaroor ons gedurende die afgelope 30 jaar heelwat besin het, is die mate waartoe ons destyds vanuit die staat en aan die hand van die staat gedink het. Ons was die erfgename van ’n baie suksesvolle, hoewel onvolhoubare staat en ons kon ons kwalik voorstel watter vlakke van verval ons nog sou aanskou. Ons gedagtes het gevolglik die pad geloop van ’n groot en veelvolkige staat vervang deur ’n klein en eenvolkige staat geloop – ’n pad wat hoe langer, hoe minder eenvoudig daar sou uitsien.

Waar ons gevolglik aan die een kant noodgedwonge, én met ’n mate van verligting, van die verstaatliking van ons kultuur en strewe afgestap het, is dit aan die ander kant ter sake om te sê dat die behoefte om in ons eie gebied oor ons eie sake te beskik, met ander woorde om ons vryheidstrewe met staatkundige erkenning te wil beklee, nie noodwendig op dieselfde neerkom as die verstaatliking van ons kultuur nie. Om van verstaatliking af te stap, is nie dieselfde as om van die volkstaat af te stap nie en mens hoef net ’n uiteensetting van elke volgende Suid-Afrikaanse staatsbegroting en belastingbedeling te kry om die innige wens te hê dat jy eerder jou belasting aan ’n eie owerheid kon betaal en inspraak in die besteding daarvan kon hê.

Die derde punt, die nuwe punt, is dat vryheid en mag – ongeag hoe nóú verweef die twee begrippe is – nie een en dieselfde ding is nie. Daar is ’n opsig, wat onlangs onder my aandag gekom het, waarin ons in 1994 ons mag verloor het, maar nie ons vryheid nie. Hoe kan ek so sê? Eenvoudig omdat ’n baie groot deel van ons mense, en vir ’n hele tyd ’n groeiende getal van ons mense, die nuwe magsorde vrywillig aanvaar en selfs omhels het. Om die waarheid te sê, blanke minderheidsmag het so problematies geword dat daar, veral onder die vaandel van Versoening wat die ’94-oorgang gekenmerk het, min mense oorgebly het wat na minderheidsmag terugverlang het.

Eers namate die nuwe maghebbers ons mense geneem het na waar hulle nie wou wees nie, het baie van hulle weer besef hoe verweef vryheid en mag in werklikheid is. As die voorgaande taksering reg is, beteken dit dat nie almal wat mag prysgegee het, vyandig jeens ons vryheid was nie. Dit beteken dat die selfstandigheidsdenke wat vandag aan die orde van die dag is, wat niks minder as ’n magstrategie is nie, nie beperk hoef te bly tot diegene wat destyds die prysgawe van mag teengestaan het nie. Dit is nogal ’n verruimende en bevrydende gedagte.

Tweedens: Waar ons vandag is

Die eerste punt oor waar ons vandag is, is dat ons volksbestaan nie meer êrens in die lug tussen herinnering en moontlikheid hang nie. Die Afrikanervolk het homself herbevestig en word as’t ware weer gebore in die veelheid van instellings en inisiatiewe wat vandag ons bestaan kenmerk. Hoewel ’n klein volk se bestaan nooit sonder meer seker is nie, is daardie vrees dat ons eenvoudig sal verdwyn omdat daar geen merkbare belangstelling oor is om ons te laat voortbestaan nie, intussen besweer. As ons inderdaad sou ondergaan, sal dit nie wees omdat Afrikaners nagelaat het om te probeer nie.

Die tweede punt is dat ons ons sedert 27 Februarie vanjaar – en ons het nog op dié waterskeidingsdag onder die bome voor ons kantoor Majubadag herdenk – van status verander het. Afrikaners, as deel van die banke grondeienaars van Suid-Afrika, is deur die hoogste wetgewende gesag in die land tot koloniste sonder reg op grond, tot gaste wat van die “inheemse” swart bevolking wat kan besluit hoe ver hulle gasvryheid strek, gereduseer. Hierdie besluit, waaraan die ANC met entoesiasme meegedoen het, het ’n einde aan die era van versoening wat deur president Mandela ingelei is, gebring en is sonder enige raadpleging of instemming van Afrikaners teweeg gebring.

Hierdie statusverandering het dan ook die laaste illusie dat ons mense hulle vrywillig bevind waar hulle is, vernietig en die einde van baie Afrikaners se laaste vryheidswaan onder die nuwe vlag aangekondig. Daaroor gaan die Burgerraad binnekort in diepte besin en aan ons Beweging leiding gee ten opsigte van gepaste optrede. Hoewel ek dit moet vermeld, wil ek nie nou verder daarop ingaan nie.

Die derde punt is egter eenvoudig en spruit uit die vorige twee: ons word vandag voor ’n eenvoudige keuse gestel: selfbeskikking of dood. “Vandag” natuurlik in ’n breër sin as hierdie dag of hierdie week of hierdie maand, maar in die sin van: dit is waar ons is en buiten as ons iets daaraan doen, is dit waar ons sal bly. Daarmee wil ek dit allermins ondringend laat klink, ek wil maar net rekening hou met die onmiskenbare feit dat die tydskale van ’n volk en van ’n enkele mens nie dieselfde is nie en dat vandag se krisis van ons volk nie noodwendig oornag opgelos kan word nie, inteendeel.

Toewyding, deursettingsvermoë, geduld, wysheid, dapperheid is alles eienskappe wat deur die avontuur van onsvryheidstrewe vereis gaan word. Dit is belangrik, want of “vandag” nou korter of langer gaan wees as wat ons dink, die keuse bly: selbeskikking of die dood.

En derdens dan: Waar ons heen gaan

Die eerste punt is, soos die Oom gesê het: As ons bly aangaan soos ons nou aangaan sal ons nie kan aangaan nie. Pres Mbeki het dit per geleentheid nogal mooi gestel toe hy gesê het: Not ‘bussiness as usual, but bussiness unusual. Negatief gestel, ons kan nie in ’n gemaksone terugsak waar ons elke dag doen wat ons elke dag doen asof ons nie voor die grootste krisis van ons volksbestaan te staan gekom het nie. Positief gestel, ons moet ons begeestering herwin, ons moet onthou waarmee ons besig is en elke dag met die inspirasie en idealisme vul wat ons in die eerste plek hier byeengebring het. En ons moet dit uitdra aan elkeen wat nog nie weet of verstaan nie, want nood is ’n vrugbare groeimedium vir idealisme.

Die tweede punt is dat ons, naas die noodsaaklike klem op plaaslike ontwikkeling en groei, opnuut ’n oog vir die omvang van ons mense se nood moet ontwikkel. Ons moet tegelyk met Orania en met meer as Orania besig wees; ons moet ’n kern- en ’n streeksperspektief hê as ons betekenisvolle vlakke van selfbeskikking wil bereik – en ons moet uitwerk wat dit vir ons gaan inhou. Nie óf die een, óf die ander nie, maar beide die een én die ander: ’n kern en groeipunt sowel as ’n hinterland en streek. Dit gaan nog kopwerk verg.

Die derde punt is dat ons, lede van die Orania Beweging, ons opnuut moet betuig en verbind aan die groot en avontuurlike roeping waarvoor ons gestel is, ’n uitdaging waarvoor die Goeie Vader ons nie sou laat kom het sonder om ons ook daarvoor toe te rus nie. Daarom nooi ek elkeen wat vanaand hier teenwoordig is, sowel as almal wat nie hier is nie, maar dieselfde strewe in hulle harte dra, om saam met my die volgende manifes te onderteken en ons só aan ons historiese strewe na vryheid te verbind:

Vryheidsmanifes van die derde Afrikaner

In afhanklike erkentlikheid van die drie-enige God wat oor die lot van volke en nasies beskik en wat ons geskiedenis in sy hande hou; wetende dat daar ‘n noue verband tussen ons herkoms en ons toekoms bestaan; en met ‘n diepe besef van die verantwoordelikheid om te voldoen aan die eise wat ons volk se voortbestaan en welstand toenemend aan ons stel –

Verklaar ons dat ons:

  • mede-Afrikaners in ‘n gees van eenheid en samehang opsoek;
  • wederkerigheid en erkenning met al die ander volke en gemeenskappe met wie ons bestaan verweef is, nastreef; en
  • ons eie selfstandigheid op elke vlak en binne elke verband waartoe ons in staat is, wil bevorder.

Met die oog daarop beywer ons ons vir ‘n deelnemende gemeenskapslewe wat:

  • gekenmerk word deur selfwerksaamheid en volkseie arbeid,
  • gebou is op volhoubare ekonomiese verhoudings en verantwoordelikheid jeens die omgewing,
  • uitdrukking vind in eie instellings, en
  • teregkom in ‘n gebied onder ons eie beheer.

Ons koester die vordering wat reeds in Orania gemaak is welwetende dat:

  • Orania as bewys dien dat Afrikaners nie in hulle huidige stand van onderhorigheid hoef te berus nie;
  • Orania alleen nog te klein is om die Afrikanervolk se geestelike en materiële nood te verlig en dat wesenlike toevoegings van ondersteuning, deelname en verbintenis tot die uitbreiding van die Orania-gedagte nodig is.

Ons streef ‘n staatkundige bedeling na wat op die beginsels van outonomie, deelname en subsidiariteit gebou is, ingevolge waarvan ons op elke gegewe tydstip die toepaslikste vorm en vlak van selfbeskikking in verhouding tot ander tersaaklike staatseenhede kan opneem.

Daarom roep ons elke vryheidsgesinde en republikeinse Afrikaner op om:

  • hierdie manifes te onderskryf,
  • die Orania-gedagte voor oë te hou, en
  • op elke moontlike wyse aan die verwerkliking daarvan deel te neem,

Sodat ons met oortuiging hande kan vat en sê: “Vryheid in ons tyd!”

Geskryf deur Carel Boshoff / Orania 21 Maart 2018


Leave a Reply