Geagte mede-Afrikaner,

Dit is vandag 30 jaar gelede dat die Afrikanervryheidstigting, die regstreekse voorganger van vandag se Orania Beweging, in die lewe geroep is. Op 16 Januarie 1988 word ʼn verklaring met die volgende strekking uitgereik:

  • Die Stigting se hoofdoel is om die Afrikanervolk se vryheid op staatkundige, ekonomiese, onderwys- en ander terreine te bevorder.
    • Die oprigters sluit in prof. CWH Boshoff, drs. CJ Jooste en JJ Henning, mnre. DJ Viljoen en MR Marais. Prof Boshoff het sy amp by die Universiteit van Pretoria neergelê om hom voltyds aan die Stigting se werksaamhede te wy.
    • Die Stigting se aard sal nie-partypolities wees en hy sal hom buite-parlementêr beywer vir die Afrikaner se voortbestaan in sy eie land.
    • Hierdie drastiese stappe is genoodsaak deur die destydse owerheidsbeleid wat op swart oorheersing van die hele Suid-Afrika afgestuur het, ongeag pogings om dit deur ingewikkelde formules en waarborge te omseil. Dit sou die Afrikanervolk nie net sy vryheid nie, maar op die duur ook sy voortbestaan kos. Daarom dat die alternatief van ʼn kleiner, maar onafhanklike volkstaat in ʼn deel van Suid-Afrika noodsaaklik geword het. Juis dit is waarvoor die Stigting hom aktief en prakties sou beywer.
    • Navorsing sou volg ten opsigte van ʼn geskikte gebied en werkswyses om die Stigting se doel te bereik.

In die loop van die volgende jaar, waartydens die Groot Trek 150-herdenking met die betekenisvolle leuse “OP TREK NA ONS EIE” ook plaasgevind het, het AVSTIG (soos die Stigting bekend geraak het) dan ook die Westelike deel van Suid-Afrika en selfs ’n deel van die destydse Suidwes-Afrika aangewys as moontlike gebied waarbinne ʼn volkstaat gevestig sou kon word. Intussen het die NP-regering eers agter die skerms en later openlik met die ANC-SAKP begin onderhandel, maar die moontlikheid van ʼn eie gebied vir Afrikaners eerder ondermyn as bevorder.

Die gevolg was dat volkstaters op hulleself aangewese was om hulle doelstellings te bevorder. Dié denkrigting het dus nie net aan regeringsteun en -hulpbronne ontbreek nie, maar ook tot onderlinge verdeeldheid bygedra en voorkom dat die gedagte van ʼn Afrikanerstaat in alle erns op die onderhandelingstafel geplaas kon word. Daarop het ʼn geskiedenis gevolg wat in die loop van die komende jaar weer herdenk sal word en wat nie net die pad tot hier bepalend beïnvloed het nie, maar ook die weg vorentoe bepaal.

*

Van belang vandag rakende die gebeure van 30 jaar gelede is nie net dat dit ons huidige werksaamhede voorafgegaan het nie, maar ook en veral dat dit ʼn nuwe denk- en handelswyse tot gevolg gehad het. In die wetenskapsfilosofie het Thomas Kuhn sulke denkspronge as paradigmaverskuiwings beskryf omdat dit aanvanklik en aan die hand van die heersende reëls ondenkbaar lyk, maar namate die nuwe denkreëls of paradigma inslag vind, die ou denke heeltemal opsygeskuif word. Dit geld natuurlik vir die Apartheidsparadigma wat veral gedurende die 1980’s onder Afrikanerbesluitnemers verplaas is deur ʼn soeke na grondwetlike beskerming in ʼn eenheidstaat. Maar dit geld te meer ook vir die volkstaatdenke wat vir Afrikaners ʼn derde punt, ʼn volhoubare alternatief buite die spanningslyn tussen minderheidsoorheersing en meerderheidsoorheersing in een Suid-Afrika, gebied het.

Hoewel die volkstaatgedagte intussen aan die hand van die opportunistiese misbruik daarvan heelwat skade gely het, is die kern van daardie nuwe denke, naamlik gemeenskap, selfstandigheid, konsentrasie, erkenning, deelname, subsidiariteit, ens. vandag juis meer aktueel en aanvaar as wat dit destyds was. Ongelukkig dat Afrikaners tans oor baie minder hulpbronne en instellings as destyds beskik om hierdie alternatief in werking te stel, maar met gister se water sal vandag se meul nie weer maal nie en om daaroor te treur sal ons niks baat nie. Daarom dat dit so belangrik is om 2018 tegemoet te gaan met ʼn sin vir die oorspronklikheid en waarde van ons benadering soos dit gedurende die afgelope 30 jaar beslag gekry het en verfyn is.

Agtergrond: 2017

By die opstel van ons jaarlikse volk-staatbetoog, met ander woorde ons behandeling van die stand en status van ons mense en wat ons in die lig daarvan te doen staan, is dit gebruiklik om kortliks by die voorafgaande jaar stil te staan. In dié gees wil ek weer na ʼn paar sake verwys sonder om dit in besonderhede te ontleed.

Die eerste en algemeenste saak is ons gewaarwording van ʼn wending, veral in die Westerse wêreld, ten gunste van volke en state se gevestigde identiteit. Dit volg op die immigrasiekrisis wat oor jare in veral Europa en Brittanje opgebou het, maar geïgnoreer is en wat gewone mense met die vrug van globale liberalisme gekonfronteer het. Hoewel die stryd tussen liberale en behoudende kragte daarmee nog lank nie bygelê is nie, is die onbetwiste oorheersing van liberale individualisme tog oor ʼn breë front deurbreek en het kulturele selfbehoud weer ʼn onderwerp geword wat in fatsoenlike geselskap bespreek kan word. Verkiesingsuitslae in verskeie Europese state getuig daarvan. Dit dra natuurlik by tot die vrymoedigheid waarmee ons Afrikaners ʼn saak kan stel wat voorheen in die reël verdag gemaak is en waarin net oënskynlike randfigure belang gestel het. Mens kan dit darem as ʼn gunstige klimaatsverandering beskryf!

Die tweede saak wat daarmee verband hou, is meer spesifiek en het op die Orania Beweging se ontvangs by mede-Afrikaners te make. Ons motiveer die afgelope jare al ʼn groter mate van selfbevestiging en die ondersteuning van selfbeskikking soos dit in Orania beslag begin kry. Daarom is ons dankbaar om terug te kyk op ʼn jaar wat die Orania Beweging met meer as vyfduisend betalende lede afgesluit het. Hoewel dit met die eerste oogopslag dalk nie na baie mense lyk nie, is daar in werklikheid maar min kultuurorganisasies wat met meer lede kan spog. Selfs as ʼn mens die Afrikanervolkswag, wat mettertyd by die Orania Beweging ingeskakel het, in berekening bring, is dit die grootste wat ons beweging se lidmaatskap sedert die vroeë 1990’s was. Nie dat ons oorweeg om nou op ons louere te rus nie, inteendeel. Dit stel ons egter wel in staat om meer te doen en steeds meer ondersteuning vir ons vryheidstrewe te verkry. Ook ons uitwaartse aksies sal daarby baat.

Derdens kan geen polities-bewuste Afrikaner aan 2017 dink sonder om die nuwe ANC-leierskap te verreken nie. Bygesê dat, as ʼn mens na die afgelope vier jaar se volk-staatbetoë kyk, jy in hierdie verband ʼn meer van dieselfde-gevoel kry. Sonder om te onderskat hoe verreikend die verandering van ʼn regerende party se leierskap kan wees en hoe groot die verskil tussen die Zuma- en Ramaphosafaksies in werklikheid is, bly dit ʼn onderlinge saak wat min verskil sal maak aan wat Afrikaners van die volgende era kan verwag. Minder korrupsie en wanbesteding is uiteraard wenslik, maar die behoefte aan die sosio-ekonomiese transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing word nie kleiner nie en Afrikaners as simbole van wit bevoorregting gaan steeds ʼn hoë prys daarvoor betaal. Die verskil is seker dat mnr. Ramaphosa se gevoeligheid vir die markte hom meer diplomaties sal maak, maar ons het al voorheen gesê dat dit ʼn klein verskil is of boere se grond met skurwe werkershande of met fluweelhandskoene afgevat word. Voorts is hy gretig om die markte gerus te stel, maar die boere nié.

Vierdens moet ons kennis neem van die onderspit wat Afrikaans met behulp van die Grondwetlike Hof aan die University of the Free State gedelf het. Nie die meriete van veeltaligheid of die beeld van veeltaligheid en minderheidsbeskerming kon die oorwig swart regters daarvan weerhou om Afrikaans as ʼn struikelblok vir transformasie te etiketteer en vir die verlede te straf nie. As enigeen nog verwagtings van billikheid of redelikheid gekoester het, moet dié verwagtings nogeens teleurgestel wees en moet dit duidelik word dat die staat nie ʼn betroubare waarborg vir ons belangrikste belange is nie. Dit is boonop duidelik dat die howe die regering nie gaan forseer om te wees wat hy nie is nie en dat dieselfde transformasiedoelwitte deur al drie owerheidsektore nagestreef word. Maar die donker wolk sal ʼn silwer randjie hê as 2017 meer Afrikaners geleer het om meer realistiese verwagtings te koester en hulle tyd, moeite en geld aan pogings te wy wat ons selfstandigheid verhoog eerder as om staatsafhanklike denke te bevestig.

Vyfdens het die Suid-Afrikaanse politieke diskoers ʼn betekenisvolle wending geneem met dr. Frans Cronjé van die SAIRR se A Time Traveller’s Guide to South Africa in 2030 wat in 2017 deur Tafelberg uitgegee is. Dit is ʼn uiters lesenswaardige weergawe van sy eie scenario-studies rakende Suid-Afrika se moontlike toekoms en die feit dat hy bereid is om een van die scenario’s as waarskynlikste uit te wys, spreek van ʼn sterk sin vir realisme. Die betrokke moontlikheid wentel om die verskynsel van staatsverval aan die een kant, maar sterk gemeenskappe met die behoefte om na hulle eie belange om te sien aan die ander kant. Die gevolg is wat hy as “enklawes” beskryf waarbinne groter en kleiner, ryker en armer, tradisionele en moderne gemeenskappe, elkeen volgens hulle aard en vermoë na hulle eie belange omsien sonder om veel van die staat te verlang of te ontvang. Dit is so duidelik die agtergrond waarteen Orania van krag tot krag kan gaan, dat ons nie anders kan nie as om 2018 reeds deur dié lens te bekyk.

Vooruitsigte vir 2018

Elkeen van die vyf sake – en daar sou meer genoem kon word – wat in die terugblik op 2017 gemeld is, verteenwoordig iets wat in ons verwagtings vir 2018 deurgedra word. Om van onder te begin: dit is betekenisvol dat Orania en die Oraniagedagte, anders as 30 jaar gelede, nie net deel van die Suid-Afrikaanse politieke landskap geword het nie, maar ook deur ernstige ontleders in ʼn positiewe lig beskou word. Dit het dr. Cronjé tydens ʼn besoek aan die Orania Beweging bevestig – hoewel ʼn mens moet bysê dat hy aansluit by die erkenning wat liberale soos dr. Van Zyl Slabbert en Lawrence Schlemmer reeds uit die staanspoor ook aan ons voorgangers gegee het. Die verskil is egter dat hulle die eerlikheid van ons denke waardeer het, al het dit teen die grein van verwagtings ingegaan, terwyl ons nou deel van dié verwagtings uitmaak.

Dit is daarom nie té vergesog nie om te verwag dat Orania en die Orania Beweging in 2018 ʼn groter plek in die politieke diskoers sal kan inneem en ʼn meer toonaangewende rol sal kan speel, al verteenwoordig ons steeds ʼn denklyn wat vir die meeste Suid-Afrikaniste en nasiebouers dwars in die krop steek. As ons egter voortgaan om ons beeld van die toekoms nie in afbrekende gees nie, maar as opbouende alternatief vir ʼn in werklikheid agterhaalde ideologie aan te bied, kan dit vir meer as net behoudende Afrikaners van belang wees. Die Oraniagedagte kan ʼn aanskouingsles wees in die werking en wenslikheid van gemeenskapsfederalisme in ʼn land met van die grootste kulturele verskeidenheid ter wêreld – ʼn verskynsel waarvoor die heersende liberale globalisme nie toegerus is nie.

Daarmee kan ons ook aansluiting vind by die toenemende kulturele bewussyn in politieke gemeenskappe wêreldwyd, veral by kleiner volke en state soos in Oos-Europa waar tradisie en geloof nog ʼn aktiewe rol in politieke denke speel. Ook in Afrika kan ons op ʼn positiewe manier by die postkoloniale diskoers aansluiting vind en onsself in die gemoed van mede-Afrikane vestig as deel van die toekoms en nie net as deel van die verlede nie. Juis dit sal ons ook help om deure na die liberale Weste, wie steun onder bedreigende omstandighede nie te versmaai is nie, te open.

Dit alles sal egter nie van veel waarde wees as ons nie voortgaan om as beweging te groei nie. Die sowat 5 140 lede waarmee die Orania Beweging 2017 afgesluit het moet in 2018 sesduisend en seweduisend lede word, Orania se inwonertal moet binne twee jaar die 2000-kerf oorsteek en ons Facebookvolgelinge moet sommer binnekort oor die 100 000 wees. Dit terwyl ons vennootskappe met gemeenskapsinstellings wat ons oogmerke van Afrikaner selfbehoud en selfstandigheid deel, moet uitbou. Gegewe die klimaat waarin ons ons tans bevind, is niks hiervan onmoontlik nie, inteendeel, dit mag te konserwatief gereken wees.

Sover dit die Suid-Afrikaanse eksterne omgewing aangaan, hoef Orania hopelik nie nuwe bedreigings te verwag nie. Om die waarheid te sê, die nuwe ANC-leier, mnr. Cyril Ramaphosa, het in die 1990’s self ʼn rol gespeel by die aanvoorwerk wat vir Afrikanerselfbeskikking gedoen is en as voorsitter van die Grondwetlike Vergadering het hy verslae van die Volkstaatraad ontvang. Hy was betrokke by die insluiting van artikel 235 van die Suid-Afrikaanse grondwet en sal hopelik toeganklik wees vir voortgesette gesprek in hierdie verband. Ons sal dan ook poog om dit op ʼn geleë tyd en met inagneming van politieke dinamika weer op te neem, dalk reeds vanjaar, dalk later. Dit sal egter in die gees van “erkenning volg werklikheid” moet gebeur om van enige betekenis te wees en die gedagte moet nie posvat dat óf Orania óf die Afrikaner se heil van die ANC se leierskap afhanklik gemaak word nie.

Dit beteken egter nie dat ons mense nie onder steeds meer druk gaan verkeer as tans nie. Ons verwys dikwels na strukturele kragte soos armoede, werkloosheid en staatsverval wat ʼn voorheen dominante bevolking soos die Afrikaners se belange nie net by wyse van regstellende aksie en transformasieteikens ondermyn nie, maar by elke mislukte poging tot “herstel” juis van dié bevolking sondebokke maak. Onder omstandighede van ekonomiese groei kan so ʼn las nog draaglik wees, maar ekonomiese agteruitgang of stilstand vererger dit net. Daarom hoop ons dat die ANC se nuwe leierskap beter vaar as die vorige, maar kan ons nie bekostig om daarop te reken nie. Ekonomiese selfstandigheid, wat ʼn voorwaarde vir politieke selfstandigheid is, sal in 2018 steeds voor oë gehou moet word.

Strategiese fokus vir 2018

Dit is duidelik dat ʼn mens in beide terugblik en vooruitskouing ʼn baie lang uiteensetting van sake kan gee. Talle gebeure is nie eers aangeraak nie en sou die prentjie verder kon inkleur, maar die konteks is hopelik voldoende geskep vir die aanmelding van strategiese fokusareas vir 2018 en verder. Drie sake verdien vermelding:

Die eerste sluit weer aan by die ontstaan van ons organisasie 30 jaar gelede. Ek het hierbo uit die wetenskapsfilosofie na die term paradigmaskuif verwys en aangedui dat ons leiers dit op die terrein van Afrikanerpolitiek help bewerkstellig het. ʼn Begrip wat ten nouste daarmee saamhang en wat deur Karl Popper gepopulariseer is, is die van ʼn kwantumsprong. Dit hou verband met die beweging van elektrone in ʼn atoom, in besonder met die verandering daarvan en die opneem of afgee van energie wat ʼn verandering van wentelbaan of vlak tot gevolg het. In die filosofie dien dit as metafoor vir, nouja, iets soos ʼn dramatiese paradigmaskuif – ʼn ander manier van dink en doen.

Die punt is dat, net soos die ANC soms van buite en van binne aan sy radikale wortels herinner word, die strukturele kragte en omstandighede in Suid-Afrika die Orania Beweging ook aan sy radikale wortels moet herinner. Radikale oorspronge (want “radikaal” sou eintlik reeds as “wortelagtig” of “wortelaardig” vertaal kon word) is nie dieselfde as ekstremistiese sentimente of optrede nie, hoewel dit soms verband hou. Radikale oorspronge verwys na diepgaande ontledings en drastiese planne om ernstig ongewensde omstandighede te bowe te kom, omstandighede soos skreiende armoede of onvryheid.

Die Orania Beweging moet daarteen waak dat hy, in sy kenmerkende aanvaarding van die onomstootlike werklikhede van ʼn nuwe orde, sy sin vir ʼn derde punt buite die spanningsveld tussen minderheidsoorheersing en meerderheidsoorheersing afwater. Anders gestel: werklike balans tussen minderhede en die meerderheid in ʼn veelvolkige samelewing gaan nie in ʼn sentralistiese eenheidstaat met inherente nasiebou- en transformasiedoelwitte gevind word nie. ʼn Heel ander staatsbeskouing is nodig, een wat boonop as gevolg van staatsverval ook uit ʼn ander hoek noodsaaklik mag word.

Daarom moet die Orania Beweging die volkstaatgedagte opnuut in behandeling neem en weer op ʼn eietydse wyse die waardes en waarde wat daarin opgesluit lê, ontsluit. Dit is die eerste fokusarea wat ons aandag verdien.

Die tweede en derde fokusareas volg uit die eerste, by name uit die vraag hoe die twee elemente volk en staat onder huidige omstandighede tereg moet en kan kom.

Die tweede fokusarea sluit by Afrikaners se republikeinse en demokratiese erfenis aan en kan onder die eenvoudige opskrif DEELNAME tuisgebring word. Ons is van oordeel dat die kern van betekenisvolle demokrasie nie in blote verkiesings of verteenwoordiging opgesluit lê nie, maar in burgerlike deelname aan sake wat die gemeenskap raak. Afrikaners was nog nooit met goedgunstige oorheersing tevrede nie en het eerder self en met moeite dinge verwerf wat hulle op die koop toe saam met onderhorigheid kon gekry het. So het ons voorgangers inlywing by die imperiale Britse kultuur weerstaan en so weerstaan ons nou die liberale globalisme met sy doelrasionele pretensies. Dit kan ons egter slegs doen waar en in soverre ons mense die ywer, geleentheid en toerusting het om oor ons eie lot en toekoms te beslis.

Daarom is deelname en demokratisering onderwerpe waaroor daar voortdurend in Orania en die Orania Beweging, maar ook onder Afrikaners in die algemeen besin moet word en wat op ons eie manier en uit ons besondere perspektief nagejaag moet word. Ons kan nie daarin berus dat byvoorbeeld ʼn deel van die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking die waardevolle begrip demokrasie annekseer en ons daarvan vervreem nie. Die demokratiese pad na enige politieke bestemming is altyd langer en moeiliker as outoritêre alternatiewe, maar dit is ook meer volhoubaar en vry. Daarom is dit die moeite werd, veral as ʼn mens nie vir onderhorigheid gebore is nie.

Die derde fokusarea is ook geen nuwe vraag nie, maar een wat opnuut oorweging verdien, naamlik dié na ʼn streeksperspektief waarbinne Orania kan floreer. Dit is gegewe dat Orania as wordende stad ʼn groeiende invloedsfeer sal hê en nie in isolasie funksioneer nie; dit was uit die staanspoor ons benadering. Die gedagte van ʼn volkstaat vir Afrikaners is 30 jaar gelede ook nie net binne fisiese streeksverband bedink nie, maar ook vir onderhandeling aan politieke leiers oor die breedste front aangebied. ʼn Streeksperspektief het dus nie net ʼn geografiese nie, maar ook ʼn politieke strekking.

As Frans Cronjé na toenemend selfstandige enklawes verwys en dan voorbeelde opnoem wat van sekuriteitsoorde in die Ooste van Pretoria tot by die Wes-Kaap as provinsie strek, kan dit nie anders as om ons denke ook en opnuut in nuwe verbande te plaas nie. Orania is deel van ʼn gebied met sy eie identiteit en eienskappe; ons vorm nog maar ʼn klein persentasie van die streek se bevolking, maar word reeds as permanente deel daarvan erken en aanvaar terwyl die streek se totale bevolking ook maar klein is. Die res van die bevolking is Afrikaanssprekend en ʼn groterige minderheid daarvan is ook Afrikaners. Watter verbande en verbintenisse is onder hierdie omstandighede die beste om uit te bou? En hoe? Dít is van die vrae wat ons moet beantwoord op weg na die toekoms – die toekoms wat in 2018 begin.

Met die voorgaande in gedagte vra ons nie net voorbidding en ondersteuning vir die jaar wat voorlê nie, maar ook deelname en medeverantwoordelikheid.

Met beste wense

Carel Boshoff
President van die Orania Beweging


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.