Die kompleksiteit van die grondkwessie, as die kulminasie van die bykans vier eeue van buurmanskap van verskeie volkere aan die Suidpunt van ons geliefde kontinent Afrika, is vir alle praktiese doeleindes die onontknoopbare knoop. Hierdie knoop was deurlopend, onder veelvuldige benaminge dit wat, deur die geskiedenis van hierdie land die spreekwoordelike ossewa aan die Pretoriaanse paal vasgebind het.

Ek is natuurlik deur die legendariese Gordiaanse knoop begelei in my gedagtevlug wat moet uiteenloop op die eenvoudige ontknoping van die knoop, deur alternatiewe denke, hetsy Aleksander se swaard of die paal wat uitgehaal word. Hierdie knoop, met name soos Vryburgers en VOC, Britse besetting van die Kaap, Mfecane, Oos-grens oorloë, kolonialisme, Groot Trek, republieke, Anglo-Boereoorlog, Unie-wording, Apartheid, Struggle, Freedom, Reënboog, Regstellende Aksie, BEE, Selfbeskikking en sedert 27 Februarie Grondonteiening sonder vergoeding, word met elke generasie meer kompleks. Ek sê dat hierdie die knoop se name oor tyd heen was, maar dit is eintlik nie waar nie, dit was alles pogings om die knoop te ontknoop, en my woorde verstrengel in die kompleksiteit van dit wat ek probeer sê en dit waaroor ek probeer skryf.

Ek wil die knoop egter ‘n naam gee, amper soos die hipotetiese daarstel van ‘n verenigde veldteorie. En ek wil die knoop ‘n naam gee, om te probeer verstaan, ek wil die knoop ‘n naam gee sodat ek ten minste vir myself sekerheid kan kry oor waarmee ons besig is. Ek wil die knoop ‘n naam gee omdat ons in bykans 400 jaar met hierdie ding gekonfronteer is, en steeds bitter min vordering gemaak het. Ek wil die knoop ‘n naam gee, want sonder ontknoping, sien ek die volgende 400 jaar as ‘n tipe van herhaling van die historiese foute, tot ‘n nóg groter kompleksiteit. Ek wil die knoop ‘n naam gee, sodat ons dan kan begin om dit werklik te ontknoop en nie bloot nuwe lissies en draaie en styftrek by te voeg nie. Ek wil dit ook waag dat vorige pogings om die knoop te ontknoop met die Aleksandrynse swaard, kataklismiese gevolge ingehou het, en dat so ‘n tipe instorm en kap, nie hierdie knoop gaan ontknoop nie, inteendeel, as historiese gebeure in ag geneem word, kompliseer dit die saak verder. Einstein se teorie van waansin sê immers: “Waansin is om dieselfde ding oor en oor te doen, en ander resultate te verwag.” Maar ek loop my gedagtes vooruit na moontlike ontknoping, terwyl ek die ding eers wil benoem.

Ek ploeter tussen terme soos tuiskoms, gemeenskapsregte, burgerskap, Suid-Afrikanisme, Multikulturaliteit, beskikkingsregte, vryheid, nasionalisme rond, maar verdwaal telkens agter iets groters aan. Ek kom uiteindelik by twee boere vloekwoorde wat ek ter wille van die aard van hierdie blog sal vertaal met die Baie Groot Krisis. Ek bekyk ons geskiedenis, en sien die pogings tot ontknoping wat nie gewerk het nie; republieke en unies en grensoorloë en demokrasieë en grondwette en besef ons moet die saak anders benader, ons kan nie teruggaan na dit wat gefaal het nie, ons moet iets nuuts probeer.

Ek kyk weer na die paal in Pretoria, en besef, dit is nie net ‘n ossewa wat met hiérdie knoop vasgebind staan nie, maar ‘n boerperd, ‘n Jaguar, ‘n basoetoeponie, ‘n Cressida, ‘n Toyota Hilux, ‘n BMW met blou ligte, ‘n Hi-Ace taxi, ‘n geel polisie bakkie, ‘n riksja, ‘n koets,‘n luiperd, ‘n olifant, ‘n dikwiel fiets, ‘n kruiwa, ‘n hammer en ‘n sekel, ‘n wit duif, ‘n Hugenotekruis, ‘n kitaar en ‘n paar tokse…

Ek besef skielik, die knoop is nie die probleem nie… maar die een paal waaraan alles gebind moet word.

Geskryf deur: Pieter Krige / Orania Blog


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.