So pas is waarskynlik die laaste veldslag oor die behoud van Afrikaans as hoër onderwystaal verloor deur die uitspraak met betrekking tot die Universiteit van die Vrystaat. Aan die een kant is dit hartseer, aan die ander kant sou ʼn ander besluit die lyding net uitgerek het. Ten minste is dit nou vir almal duidelik om te sien: daar is geen toekoms vir Afrikaans (behalwe binne die private ruimte nie) binne die ANC-staat nie, want die vereiste van “transformasie” staan voorop, voor taal- en kultuurregte. Dit behoort ook vir ons mense te wys dat ons nie ons hoop op die grondwet of die howe moet bou nie. Afrikaner, jy is op jou eie.

Die argument van die universiteitsbestuur, en die regering, is dat Engels verenigend is, omdat dit die wêreldtaal is, en omdat dit in Suid-Afrika die lingua franca is, almal se tweede taal (behalwe vir die klein groep Engelssprekende blankes) is en dat Afrikanerstudente nie die voordeel van onderwys in hulle eie taal mag kry nie, want dit gee hulle ʼn voordeel bo swart studente en veral weerhou dit hulle van interaksie met hulle swart studentemaats en verhinder nasiebou en versoening.

Daar kan baie gesê word oor die “wêreldtaal” Engels: in groot dele van die wêreld kan jy maar vergeet om met Engels iewers te kom, enige reisiger wat uit die “Commonwealth” kring uitbeweeg kan dit betuig. Selfs anderkant Komatipoort kom jy met Engels nie ver nie. Ook in Suid-Afrika is beslis nie almal Engels magtig nie, en wat as Engels deurgaan is dikwels ʼn soort verkorte Pidgin-omgangstaal wat min met standaard-Engels, wat vir die universiteit nodig is, gemeen het.

Belangriker is egter die vraag of Engels die verenigende faktor is, wat dit na bewering van die regering en sy meelopers is. Engels het sekere nuwe wêreldlande soos die VSA, Kanada, Australië of Nieu-Seeland op die kleinste gemene deler verenig, maar selfs daar moet die stelling met ʼn knippie sout gevat word: Franssprekende Kanadese staan sterk op hulle taalregte, in die VSA brei Spaans in veral die Suide uit en word Engels die bedreigde taal. Spaans, Frans of Portugees, terloops, is net sulke “wêreldtale” en vervul dieselfde funksie as Engels in hulle streke.

Die huidige bewind maak die fout wat al die Engelse bewind in Suid-Afrika honderd jaar gelede gemaak het: verklaar Afrikaans minderwaardig en bemark Engels as die taal wat toegang en status gee en nasiebou bevorder. Enkeles mag dit aangryp, maar die meerderheid sal dan eers lief raak vir hulle eie en besef dat daar vir hulle in Suid-Afrika geen plek is nie. Die logiese gevolg is verset en die soeke na jou eie plek en die bou van jou eie instellings.

Die verengelsingsbeleid van ʼn Lord Milner het nie van Afrikaners Engelse gemaak nie, maar aanleiding gegee tot die stigting van private, Christelik-nasionale skole en die hele oplewing van Afrikaner-nasionalisme aangevuur, wat later uitgeloop het op die Nasionale Party se segetog. Ons kan ook verwys na voorbeelde in Europa: Die diktator Mussolini wou die Duitssprekende Suid-Tirolers gedwonge veritaliaans, maar hulle het hulle met ondergrondse skole verset en veg steeds vir al hoe groter outonomie. In Spanje wou die diktator Franco Spaans op almal afdwing en het daardeur juis Katalaanse en Baskiese taalnasionalisme aangewakker, wat gelei het tot eie streke met ʼn groot mate van selfbeskikking en selfs ʼn strewe na onafhanklikheid.

President Mandela se benadering ten opsigte van Afrikaans was baie slimmer en meer bevorderlik vir nasiebou, en daarom so veel gevaarliker vir die Afrikaners: smeer hulle heuning om die mond in Afrikaans, gee vir hulle die illusie dat Afrikaans sal voortbestaan, en integreer hulle geleidelik op al hoe meer multi-kulturele universiteite en skole, al word daar nog ʼn bietjie hier en daar Afrikaans gepraat. Is dit nie juis in Afrikaanse gemaksones soos Stellenbosch of in die Naspers-koerante nie, in ‘n kamstig veilige Afrikaanse omgewing, waar die nasiebou-narratief in Afrikaans so suksesvol verkondig is? Dit is hier waar Afrikaans sonder weerstand geoffer word, omdat niemand meer weet wat dit geverg het om ʼn Afrikaanse universiteit of ʼn Afrikaanse media te bou nie. Ek voorspel dat dieselfde binnekort in Potchefstroom sal gebeur, en dat daar ook min weerstand sal wees.

Nou word Afrikaners uitgestoot, nie net die studente nie, maar ook die Afrikaanse ouers en alumni, wat finansieel wesenlik tot instellings soos die voorheen Afrikaanse universiteite bydrae. Selfs die laaste een besef nou dat die toekoms vir Afrikaanse onderwys slegs in eie private Afrikaanse instellings lê, soos Akademia, Soltech, CVO en ander. Dit verteenwoordig ʼn verdere stap van die Afrikaner se speenproses van die staat en na selfstandigheid. Miskien lewer die doodskoot vir Afrikaanse onderwys by staatsuniversiteite iets goeds op vir vryheid.

Geskryf deur Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.