Orania is gebou op volkseie arbeid. Vir ons wat hier woon is dit van selfsprekend en ons vergeet dikwels hoe vreemd die konsep vir mense buite Orania is, selfs vir sommige van ons ondersteuners.

Volkseie arbeid is nie ‘n aardigheid nie, dit is as t’ ware die hoeksteen van Orania. Christenskap en Afrikanerskap is ook hoekstene van Orania, maar daar is ook ander dorpe wat ‘n Afrikaanse en Christelike karakter het, maar volkseie arbeid veral is dit is dit wat ons anders maak. Die ou Suid-Afrika was Christelik en Afrikaans gedomineerd, nogtans het dit tot ‘n val gekom.

Daarom weer ‘n verduideliking hoekom volkseie arbeid so uiters belangrik is, meer nog, hoekom die konsep van Orania en die volkstaat daarsonder ondenkbaar is.

 

Demografiese meerderheidsbesetting

Daar was al talle sogenaamde volkstaatplanne waarvan niks gekom het nie, omdat dit nie gepaard gegaan het met meerderheidsbesetting nie. Dit was planne (en daar is nog steeds sulkes) waar grense rondom wit woonbuurte getrek word en waar swart “uitlanders” in- en uitpendel en geen stemreg het nie. Dit is net ‘n poging om apartheid voort te sit en is daarom doodgebore. ‘n Volkstaat moet ‘n oorweldgende Afrikanermeerderheid hê. Dit kan net bereik word as die werksmag, wat in Suid-Afrika die meerderheid van die bevolking is, volksgenote is.

Dit is al oor en oor bewys dat vreemdelinge wat vir jou werk en wat mettertyd die meerderheid word, hulle nie vir altyd deur grense laat keer nie. Niemand wil elke dag na die werk pendel en in arm omstandighede anderkant die grens woon nie. Suid-Afrika kon nooit ‘n hoofsaaklike wit land word nie, soos Australië, Nieu-Seeland, VSA of Kanada nie, omdat van die begin af van slawearbeid en goedkoop vreemde arbeid gebruik gemaak is. Die demografiese ontwikkeling spreek vanself: waar daar nie werk vir blankes uit die laer range was nie, en waar net ‘n hoërklas gevorm het, kon geen volk ontstaan wat die hele gebied kon beset en bewerk nie. Die bevolkingsverhouding tussen blankes en nie-blankes het die hele tyd verswak.

In Orania is die les van die begin af geleer, al was dit ook verbonde met talle terugslae. Dit is egter die enigste dorp in Suid-Afrika sonder sy “lokasie” en die daarmee gepaardgaande bedreiging. Hier is werkgewers en werknemers volksgenote en woon langs mekaar.

 

Politieke mag

Saam met meerderheidsbesetting gaan ook politieke beheer gepaard. Na 1994 het die “lokasies” die beheer oor die eertydse blanke dorpe oorgeneem, met ver rykende gevolge vir die inwoners van ‘n dorp, soos elke Afrikaner in ‘n mindere of meerdere mate kan getuig. Orania het van die begin af ‘n homogene gemeenskap gevorm met sy eie nie-partypolitieke stelsel, wat in 2000 weer deur ‘n hofsaak herbevestig is. Dit het tot gevolg dat ons inwoners se heffings gebruik word vir die ontwikkeling van ons dorp en ons mense, en dat ons prioriteite in ag geneem word, soos goeie, werkende infrastruktuur en dienslewering, onderhoud van openbare geboue, sportterreine en museums, estetiese bevordering ensovoorts.

 

Werkskepping vir Afrikaners

Nie alle Afrikaners het gesogte akademiese kwalifikasies en kan op enige plek in die wêreld werk kry nie. Daar is meer en meer wat veral weens diskriminasie in die werksplek nêrens meer geholpe kan raak nie maar wat eintlik vaardig en toegewyd is. Veral die bloukraagsektor is vir blankes grootliks gesluit omdat die massas swart werksoekendes veral daar geakkommodeer moet word. Danksy die beginsel van volkseie arbeid in Orania kon hele beroepsgroepe vir Afrikaners herskep word wat elders amper nie meer bestaan nie, soos bouers, plaaswerkers, munisipale werkers, rakpakkers, kassiere, ensovoorts.

 

Minder konflik met ‘n homogene werksmag

Waar daar ‘n homogene werksmag bestaan en werkgewer en werknemer dieselfde taal praat en dieselfde waardes en kultuur deel, is konflik baie minder en gewoonlik redelik maklik oplosbaar. In homogene samelewings is daar selde stakings, en hulle gaan ook gewoonlik sonder geweldpleging gepaard. In Suid-Afrika is feitlik geen staking net oor werksverwante sake nie, daar is altyd ‘n groter vraagstuk van rassisme, uitbuiting, wit kapitalisme, strukturele geweld, swart bevryding, weg met Afrikaans, ensovoorts en kan daarom selde bevredigend opgelos word. Stakings in etnies verdeelde samelewings word dan ook dikwels monsterings van etniese of rasgebonde mag. Misverstande oor taalgrense heen maak dikwels van ‘n onskuldige grappie ‘n rassistiese belediging. In Orania was daar nog nooit ‘n staking of wegblyaksie nie.

Ontwikkeling van ‘n gesonde ekonomie

Eie arbeid lei tot beter vergoeding, omdat jou volksgenote meer lojaal en meer produktief is as vreemdes wat voel hulle word uitgebuit en wat daarom vyandig teenoor die werkgewer en die maatskappy staan. Die saamlopende verdeling van ras en klas is gevaarlik want werkgewer en werknemer is nie vennote nie, maar vyande, en daarom is die kommunistiese logika in Suid-Afrika veral onder swart vakbondlede so aantreklik. Die belange van die ras of groep kom eerste, volgens die logika. In ‘n homogene samelewing kom de belange van die land en die maatskappy eerste. ‘n Florerende maatskappy kan beter lone betaal, tevrede werkers werk meer effektief en spandeer hulle geld meer doelgerig en op ‘n hoër vlak. Werknemers wat die werkgewer nie as vyand nie, maar as vennoot en voorbeeld sien, strewe nie na sy vernietiging nie, maar daarna om sy voorbeeld te volg en self eendag selfstandig te wees. Waar mense etnies homogeen is, het hulle ook dieselfde behoefte aan produkte en dienste en kan dit vir mekaar voorsien. Die uitwerking van ‘n werkmag met heeltemal ander gewoontes en voorkeure is in elke klein dorp se ekonomie te sien, met die soort winkels wat ontstaan vir swart behoeftes, terwyl ander, wat meer op die wit mark gerig is, verdwyn. Meer nog, die geld sirkuleer nie. Swart werknemers spandeer hulle geld in byvoorbeeld Sjinese goedkoop winkels, en die Sjinees koop nie plaaslik nie maar by sy familie in Johannesburg of selfs Sjina. Dis hoekom so veel klein dorpe net verder verarm. Dit is nie toevallig dat Orania seker die meeste besighede gemeet aan die bevolkingsgetal het.


 

 

Leave a Reply