borsbeelde-op-monumentkoppie-saam-met-die-klein-reus-orania-FB

Borsbeelde op Monumentkoppie saam met die Klein Reus in Orania Foto: Orania, Facebook

Baie water het in die see geloop sedert ANC-onderhandelaars in die middel 1990’s aan voorstaanders van ‘n Afrikanervolkstaat gesê het you are barking up the wrong tree. Daarmee het hulle natuurlik bedoel dat die knoop nie by hulle of by die grondwetlike voorsiening daarvoor lê nie, maar by Afrikaners se eie onvermoë om praktiese uitdrukking daaraan te gee.

Min het egter ten aansien van Afrikaners se aanspraak op selfbeskikking verander. Dit is steeds ‘n begeerlike gedagte – wat deur niks soveel beperk word nie as deur ons eie ongereedheid daarvoor, ten opsigte van hetsy die ordening van mense met die oog daarop of ‘n gebied wat geskik is daarvoor.

Buiten natuurlik vir Orania waar ‘n groeiende gemeenskap nie net oor die gebied nie, maar ook oor die instellings beskik om ons eie besliute te neem en uit te voer. Dat dit tans nog op ‘n beperkte skaal plaasvind, beteken egter nie dat mens die waarde daarvan moet onderskat net omdat jy dit nie wil oorskat nie.

Feit is dat Orania iets doen waaroor ander nog net praat – wat ook verklaar waarom Orania daarop gesteld is om self te praat as dit oor sy selfbeskikking gaan. Veral as dit by gewigtige rolspelers soos die Suid-Afrikaanse regering en regerende party kom, is ons op die verstandhoudings en praktyke wat oor jare gevestig is, gesteld en heg ons meer waarde daaraan as aan geleentheidsgesprekke wat nog bloot oor die gedagte handel.

Eerstens praat Orania vir homself, nie omdat ons samehang onder Afrikaners geringskat of enigiemand anders wil verhoed om ook namens hulleself te praat nie, maar wel omdat gesprek in die finale instansie nie net ‘n vraag van wie is nie, maar ook van wat. Dit help ten ene male nie om ‘n skyneenheid of ‘n eenheid van gesindheid te hê, maar oor die belangrikste kwessies wat in onderhandeling ter sprake kom, van mekaar te verskil nie.

Die Orania Beweging het naamlik 23 jaar gelede sy voet op die pad van praktiese selfbeskikking geplaas en of ons suksesse van buite nou groot of klein lyk, ons kan en wil die horlosie nie probeer terugdraai na strategieë wat ons tevore ook oorweeg of beproef het nie. Ons het besluit om ons denkbeelde aan die harde toets van die praktyk te onderwerp en ons het aanvaar dat die tyd sal leer of ons reg is. Tot dusver het ons nog geen “volkstaat” verower nie, maar wat ons het is meer as waarmee enige ander Afrikanergemeenskap kan spog, naamlik ons eie grond met ons eie instellings gebou op ons eie arbeid. Om selfs klein te doen dra meer gewig as om groot te praat en tot dusver is die tyd nog aan ons kant.

Interessant genoeg is die rede daarvoor juis opgesluit in ‘n bepaalde benadering wat ons verhouding tot die tyd kenmerk. Dit sien mens in die verskillende hanterings van die beeldspraak rakende daardie groot tydstip: twaalfuur. Vir ons is dit ‘n kwessie van realisme dat in die lewe van ons volk dit nie kwart voor… of vyf voor… of ‘n minuut voor twaalf is nie – twaalfuur is verby. Wie onder sulke omstandighede nog probeer red wat daar te redde is besef nie altyd wat alreeds verlore is nie. Wie te veel van die sinkende skip of die brandende huis probeer red, kan maklik saam ondergaan of verbrand; daar kom ‘n punt waarop mens jouself moet red, al is dit net om weer van vooraf te begin.

Om die waarheid te sê: sonder die Bittereinders sou ons volk nou wel nie die trots gehad het om uit die as van ons verlore Vryheidsoorlog op te staan nie, maar dit was die Nuutbeginners wat die opstaanwerk gedoen het. (Al was dit soms dieselfde mense, was dit tog ‘n heel nuwe taak wat hulle opgeneem het.) Hulle het die nuwe orde waaronder hulle teen wil en dank moes staan, nie geïgnoreer of misken nie – hulle kon nie, hulle moes immers selfs ‘n eed van getrouheid aan die veroweraars aflê. Hulle het dit aanvaar, maar nie daarin berus nie. Hulle het binne dié orde opnuut die gees en vermoë van selfstandigheid opgebou, daarsonder sou die volgende geslag niks hê om weer die kroon van vryheid oor te span nie.

Ons huidige verhouding met die Suid-Afrikaanse regering word deur dieselfde realisme gevoed: vanwaar ons nou staan, is ons nie in die eerste plek in ‘n stryd met hulle gewikkel nie, maar met ‘n opbouproses van ons eie besig. Daarvoor het ons so veel vriende en so min vyande as moontlik nodig, ook binne die regering. Ons doen niks onwettig nie en het niemand se toestemming daarvoor nodig nie, maar ons wil ook niemand bedreig of verras nie – óf bedreig en verras word nie. Daarom dat ons in deurlopende skakeling, meestal oor kleiner sake, met verskillende vlakke en verteenwoordigers van die regering is. Ons moes al in die verlede en ons mag weer in die toekoms nodig hê om ons op ‘n hof te beroep, maar ons sal die praktiese selfbeskikking wat ons reeds beoefen en uitbou nie bevorder deur by sake van algemeen politieke aard wat op ‘n onnodig vyandige voet aangepak word, betrokke te raak nie. Daarom praat Orania vir homself en het ons tans nie ‘n probleem om toegang tot gesprekke met die owerhede te kry nie.

Daarmee is die tweede verskil tussen Orania en ander voorstaanders van selfbeskikking se aanslag eintlik al aangeraak, naamlik die inhoud van moontlike onderhandeling. Uit ervaring weet ons dat die eenvoudige vraag waarmee volkstaters in die verlede met ‘n kluitjie in die riet gestuur is, die volgende was: waar en hoe? Die huidige regering se onwilligheid om Afrikaners se aansprake te erken, moet nie vir ‘n oomblik onderskat word nie, maar dit is nietemin ‘n billike vraag. “Tell us, what does the animal look like?” was in die verlede die frase waarmee ons terug tekenbord toe gestuur is. As daar nie nou lewensvatbare antwoorde oor ‘n grondgebied wat Afrikaners bewoon, bewerk en beskerm, gegee kan word nie, sal dit nie veel help om te praat oor wat ons mense besit nie.

Om die waarheid te sê, ons het lankal reeds ons voorbehoude oor regsaansprake wat nie met die werklikheid rekening hou nie, uiteengesit. Dit het die volgende behels:

– Eerstens dat selfbeskikking nie ‘n reg is wat in die eerste plek met behulp van regsprosedures verwerf word nie en dat Afrikaners se belangrikste taak nie is om dié regsaanspraak uit te werk en af te dwing nie. Orania se benadering is daarenteen dat ons eers ‘n selfbeskikkingswerklikheid moet skep en dat die reg hoogstens ‘n seël op dié werklikheid kan plaas.

– Tweedens dat die Volkereg by uitstek nie as deel van so ‘n positiewe reg beskou kan word nie. Terwyl binnestaatlike reg met betrekking tot ‘n hele aantal sake afdwingbaar is en herstel van onreg beloof, gee tussenstaatlike reg hoogstens voor om ‘n vergelykbare bedeling te skep. Die werklikheid is dat slegs erkende entiteite wat oor genoeg magsmiddele beskik om hulle aansprake af te dwing (en dit sluit inderdaad morele “magsmiddele” in, dus nie net wapenmag nie), enige verwagting daarvan moet hê. Maar weer eens: hoogstens om ‘n seël op ‘n aantoonbare werklikheid te plaas.

– Derdens dat mens die kar voor die perde span as jy met ander wil onderhandel oor ‘n aanspraak waarvan diegene namens wie jy wil praat, nog min onderlinge eenstemmigheid bereik het. Dan praat mens nog net oor die konsep en nie oor die toepassing van die reg nie, en oor die konsep kan die regering met reg aanvoer dat daar voldoende voorsiening voor gemaak is. Die onus rus op ons.

Orania gaan van die praktyk uit: ons onderhandel vir grond wat ons het namens mense wat ons ondersteun op die vlak wat op elke gegewe tydstip by ons vermoë pas. Ons konsentreer daarop om dié vermoë uit te bou en laat ons nie by elke poging wat nog oor die konsepte wil onderhandel, in nie. Daarom praat ons vir onsself.

Leave a Reply