Kunswerke deur twee van Suid-Afrika se skildermeesters word tans ten bate van hulpbehoewende Afrikaners in Orania opgeveil.

Een is ’n Pierneef-skildery genaamd Struisbaai en die ander ’n Meerkotter getiteld Katedraalvenster. Die skilderye is deur Johanna Pohl, weduwee van die bekende Afrikaanse komponis en sanger Jan Pohl aan die Orania-beweging se Helpsaamfonds geskenk.

Pohl, ook die broer van die afgestorwe aktrise prof. Anna Neethling-Pohl, is ná sy dood in Julie 1997 in Orania begrawe.

Sy vrou bly steeds in Philippolis in die Vrystaat. Die skilderye kom uit haar en haar man se private versameling.

James Kemp, die woordvoerder van die Orania-beweging, sê in ’n verklaring die Helpsaamfonds, ’n filiaal van die beweging, het ’n aanlyn veiling begin waar dié twee kunsskatte opgeveil word.

“Die Helpsaamfonds se doel is om Afrikaner-armoede op ’n volhoubare wyse die hoof te bied. Dit sluit in die oprigting van subekonomiese behuisingsprojekte soos Elim,” het Kemp gesê.

Elim huisves reeds 47 mans, terwyl 12 gesinne in die Soetdoring-behuisingsprojek blyplek het.

Die Helpsaamfonds se doel is om Afrikaner-armoede op ’n volhoubare wyse die hoof te bied. Dit sluit in die oprigting van subekonomiese behuisingsprojekte soos Elim.

James Kemp, die woordvoerder van die Orania-beweging en Pieter Krige, die uitvoerende hoof van die Helpsaamfonds, sê die verkoop van die skilderye sal ’n groot bydrae tot die verdere oprigting van subekonomiese behuisingsprojekte in Orania lewer.

“Tannie Johanna het reeds die skilderye vir ons gegee en ons hou dit in veilige bewaring totdat dit aan die nuwe eienaar oorhandig word,” sê hy.

Elke skildery word in detail beskryf op die webblad, waar verskeie mense reeds daarop begin bie het.

Die kunswerke word deels beskryf as: “Dirk Adriaan Meerkotter – Katedraalvenster (1968). Olieverf op doek. 755 mm w x 605 mm h. Die kunstenaar se blik op die eksistensiële word in hierdie pragwerk as die transendentale verskyning van die Godheid deur die loodglas van die katedraal uitgebeeld.”

Die Pierneef word deels beskryf as: “J.H. Pierneef – Struisbaai (1950). Waterverf op papier. 550 mm w x 360 mm h. Pierneef begin met hierdie vertolking van Struisbaai sy kreatiewe styl en karakter binne sy soeke na herkoms te herontdek. Een van sy heel laaste skilderye maak hierdie ’n onontbeerlike toevoeging tot die Pierneef-Afrikana-skat.”

Die veiling vind op Orania se webblad www.orania.co.za plaas en sluit op 21 Junie. Die bodprys op die Meerkotter was teen Maandag 16:00 R4 500 en op die Pierneef R7 000.


Leave a Reply