Afrika het Donderdag sy eerste digitale geldeenheid gekry toe die Orania-beweging sy e-ora in Pretoria bekend gestel het.

Die ora word al van 2004 in Orania, die “onafhanklike” Afrikanergemeenskap in die Noord-Kaap anderkant Kimberley, as geldeenheid gebruik.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die The Efficient Group, het die bekendstelling in die Buffelsfontein-beesboerdery – ’n restaurant in Pretoria – gedoen.

Hy het sommer dadelik aangekondig daar kan nou ook met die e-ora by die The Efficient Group belê word en die restaurant het gesê hy aanvaar ook die e-ora as betaalmiddel.

Roodt sê hy is baie opgewonde oor die “eksperiment” van die e-ora. Hy sien die moontlikheid dat die ora op sy eie kan ontwikkel, maar in hierdie stadium sal die ora ten volle ondersteun word deur die rand.

“Jou selfoon met die nodig app word jou beursie en jy kan sonder note koop en betaal,” sê Roodt. Hy is volgens hom by ander soortgelyke inisiatiewe betrokke.

Die voordeel van Orania is die rente wat hulle kry op die e-ora-beleggings. Mense wat Orania graag wil ondersteun, kan met die rand e-oras van die “tuisland” se eie bank koop – die Orania Spaar en Krediet Koöperatief. Terwyl hulle dan die ora gebruik om te betaal by plekke wat die digitale geldeenheid aanvaar, kry Orania rente op die rande in sy besit.

’n e-ora kan by die bank teruggeruil word vir ’n rand.

Roodt het dit oorbeklemtoon dat die e-ora nie ’n kriptogeldeenheid soos bitcoin is nie, want dit word steeds ondersteun deur die rand. Bitcoin word deur niks ondersteun nie.

Roodt sien die ekonomie van Orania “soos ’n petribakkie vir ’n bioloog” – ’n ideale plek om navorsing vir sy doktorsgraad te doen.

Hy sien die digitalisering van geld as die begin van die privatisering van geld en die begin om die geld uit onbetroubare politici se hande te neem.

“Die regering het Suid-Afrika se ekonomie reeds ongekende skade aangedoen. Die staat se geld is finish en klaar. Hy skuld baie geld.

“Om (pres. Jacob) Zuma te vervang, gaan nie ’n verskil maak nie. Cyril (Ramaphosa) gaan dit nie alleen kan doen nie.

“Geld is nie die wortel van kwaad nie, geld is die wortel van dit wat goed is. Geld maak dinge moontlik.”

Roodt voorspel dat die aandelemark, belasting en mag dramaties gaan verander in die toekoms wanneer geld weer in die hande van die individu is en nie meer in die hande van politici nie.

“Daar is meer gevare, maar die voordele is individuele vryheid. Mense gaan geld verloor, maar baie gaan wen,” sê Roodt.

Deur: Netwerk 24


Leave a Reply