Orania word telkens gekritiseer vir sy tentoonstelling van beelde van Afrikanerleiers, met ‘n spesifieke fokus op Verwoerd as “die ergste leier van die ou bedeling”. Ons neem egter eienaarskap van ons geskiedenis en erken dat vorige leiers, of jy van hulle hou of nie, ‘n bydrae gelewer het om die Afrikaners te bring waar hulle vandag is.

Ons verval nie in die mode om ‘n versameling “goeie mense” wat kamstig vir die hele mensdom iets beteken het, daar op te sit nie, want dit het niks met ons en ons geskiedenis te doen nie. Westerse lande vereer Mohandas Gandhi en Nelson Mandela as “groot humaniste en internasionaliste” en vernoem strate en pleine na hulle en sit borsbeelde van hulle op, ten spyte daarvan dat hulle min of niks met die betrokke lande se Monumentkoppiegeskiedenis te doen het nie, en ook nie met ‘n soort verbeelde “geskiedenis van die mensdom” nie. Mohandas Gandhi het gestaan vir sy mense, die Indiërs en spesifiek die Hindoes (eers in Suid-Afrika, dan in Indië«) se regte en vryheid, en Nelson Mandela het gestaan vir die swart mense van Suid-Afrika en hulle politieke aspirasies. Nie een van hulle was ‘n super-humanis wat die mensdom wou verenig nie en hulle het ook hulle swak punte gehad.

Met verloop van tyd word onaantasbare helde heel menslik gesien, en ander wat net as skurke onthou is, word in perspektief geplaas. Nogtans sal daar altyd mense uitstaan en nog eeue later onthou word. Met die nodige tydelike afstand word intussen geskryf dat Gandhi nie veel ooghare vir swart mense gehad het nie en dat dit vir hom daaroor gegaan het om as gekultiveerde Indiër op dieselfde vlak as die witmense erken te word, nie om die gekleurde volke van die wêreld te bevry nie. Laasgenoemde was deel van die latere swart bevrydingsmitologie en die nog latere Hippie-geinspireerde een-wêreld ideologie. Oor Mandela word nog geen kritiek geuiter nie want hy is nog te veel met ons en nog nie geskiedenis nie. Die ware Mandela, tussen terroris aan die een kant en messias aan die ander kant, sal waarskynlik eers na vore kom as historici wat nie die Mandela-era beleef het nie, nugter en op ‘n afstand oor hom skryf, soos wat ons nou oor Napoleon kan skryf. Hulle was almal feilbaar, net soos die Afrikanerleiers wat ons gedenk ook was.

Dit gebeur wel dat sekere groot dade ‘n uitkringeffek het en vir die hele wêreld voordele bied, soos sekere tegnologiese ontwikkelinge of mediese ontdekkinge, wat van die land van uitvinding na die res van die wêreld versprei. Diegene wat dit uitgevind het, het egter gewoonlik nie die hele mensdom in gedagte nie, maar werk aan ‘n spesifieke vraagstuk wat hulle aanspreek en skep iets wat later ontwikkel in iets wat almal bevoordeel. Die punt is dat eintlik geen geskiedkundige persoon buite sy land en sy mense verstaan kan word nie. Om goeie redes vereer die Franse vir Napoleon en de Gaulle, maar nie vir Petain nie, of die Duitsers vir Bismarck of Adenauer, maar nie vir Hitler nie.

Met bogenoemde in gedagte het ons die volste reg om ons helde, synde politieke leiers, oorlogshelde, digters, nyweraars, teoloë«, kunstenaars, filosowe en uitvinders te vereer want hulle het die Afrikanervolk gevorm. Uit die aard van die saak moet ‘n mens ‘n keuse maak en bepaal dat sekere persone meer eer verdien as ander. Orania is ‘n projek deur en vir vryheidsgesinde Afrikaners en om Afrikaners te eer wat koud gestaan het teenoor die Afrikaner se strewe, of wat internasionaliste en selfs imperialiste was, sou nie sin maak nie, al aanvaar ons ook hulle as deel van ons geskiedenis.

Bron: Orania
Skrywer: Sebastiaan Biehl


Leave a Reply