Integrasie is die towerwoord waarmee Europa glo dat hy die miljoene vlugtelinge wat uit veral lande van die Derde Wêreld instroom, kan beheer en tot landsburgers wat ʼn bydrae lewer en ʼn aanwins is, kan omskep.

Veel warm lug is al geproduseer in die debatte en nog veel meer geld is al ingeploeg in burgerkunde, taalkursusse, inligting- en opleidingsessie, alles met die oog daarop om so veel as moontlik van die nuwe aankomelinge in die hoofstroom-samelewing in te smelt.

Veel word gesê, veral van Europeërs, oor die ou Suid-Afrika onder bewind van die Nasionale Party, wat misluk het met sy beleid om mense volgens ras en etnisiteit te skei. Dit het nie gewerk nie, maar die teendeel, integrasie, gaan werk, so word geglo. Europa het min ervaring met die opbou van ʼn nuwe, multi-kulturele samelewing en sal gou ontnugter word oor die beperkinge van integrasie.

As ʼn mens wil leer oor hoe integrasie van mense uit verskillende lande en agtergronde (met beperkinge) werk, moet ʼn mens eerder na tipiese immigrasiesamelewings soos die VSA, Australië, Kanada of Brasilië kyk. Selfs daar is die suksesse baie gemeng.

Een vasstelling wat gemaak kan word, is dat integrasie op ʼn individuele vlak werk, maar baie moeilik op ʼn gemeenskapsvlak. Die Ierse of Duitse of Italiaanse gesin of enkeling wat byvoorbeeld na die VSA geëmigreer het, moes eenvoudig by die meerderheidssamelewing inskakel as hulle wou oorleef. Sodra daar egter groot getalle immigrante van ʼn spesifieke land emigreer, en veral as hulle in ʼn spesifieke gebied vestig, vorm hulle hulle eie subkulture en gemeenskappe en dien as aanlooppunt vir individue wat nog op pad is. In die VSA het byvoorbeeld ten spyte van alle smeltkroes-idee ʼn Sjinese en ook Italiaanse subgroep ontstaan, deels met eie woonbuurte. Terwyl Europese volke gewoonlik wel uiteindelik in die meerderheidskultuur opgeneem word (soos die Duitse of Ierse immigrante na die VSA), is dit moeiliker, indien nie onmoontlik nie, met gemeenskappe met ʼn ander ras en godsdiens as die meerderheidskultuur. Daarom kry jy ook oor die wêreld heen “China Towns” en “Little Indias”.

Interessant in die verband was ook die stem van buitelandse Turke in die onlangse referendum oor grondwetlike veranderinge, wat in praktyk daarop neergekom het om Turkye van ʼn demokrasie na ʼn outokrasie te omvorm. Daar waar Turke net in klein getalle en wyd verspreid woon, soos in die VSA, Kanada, Australië en ook Suid-Afrika, het die groot meerderheid teen die grondwetlike muslimslondonveranderinge gestem. ʼn Mens sou daaruit kan aflei dat hulle met hulle gasheerland en sy demokratiese strukture vereenselwig. In lande waar daar groot getalle Turke is en waar hulle hul eie woonbuurte met eie media, restourante, winkels, skole, moskeë ensovoorts het, soos in Duitsland, Nederland, België en Frankryk, het hulle oorweldigend gestem vir die grondwetlike veranderinge en by implikasie gesê: ons identiteit is in die eerste plek Turks en die president, mnr. Erdogan, is ons leier en ons voel nie tuis in die lande waar ons is nie.

Die Afrikanervolk is ʼn interessante voorbeeld waar ʼn nuwe volk uit individue gevorm het wat hulle moederland en sy kultuur grootliks agtergelaat het, maar wat nie in ʼn bestaande samelewing opgeneem kon word nie, omdat daar nog geen bestaan het nie. Latere immigrante, soos Britte, Grieke en Portugese, het in meeste gevalle nie in die Afrikanervolk ingesmelt nie omdat hulle in groot getalle gekom het of kultureel en godsdienstig te verskillend was.

Selfs in Orania, wat ʼn etnies homogene gemeenskap is, is integrasie belangrik en nie iets wat van self gebeur nie. Die enkele Engelssprekendes wat hier is, kan net opgeneem word omdat hulle as individue, dikwels met ʼn Afrikaanse eggenoot, hier aankom en daar geen Engelse skool, klub of kerk is om hulle identiteit te bevestig nie. Selfs boorling Afrikaners moet geïntegreer word in die spesifieke Orania-gemeenskap en moet talle gewoontes en persepsies uit Suid-Afrika, soos oor arbeid, agterlaat.

Laastens, die beginselvraag wat die balans tussen integrasie en eiesoortigheid moet wees, is ook iets waaroor die laaste woord nog nie gesê is nie. In die ou bedeling is byvoorbeeld gepoog om die Afrikanervolk te versterk deur die aanmoediging van immigrasie en integrasie van stamverwante Europeërs, terwyl terselfdertyd rasse-integrasie verhoed en eiesoortigheid aangemoedig is. Suid-Afrika as geheel het geen meerderheidskultuur nie (selfs die swart meerderheid is etnies versplinter), maar roem op sy diversiteit, wat ons krag sou beteken.

In die geval van Orania, waar ons ʼn nuwe samelewing in ʼn sekere sin wil skep sowel as ʼn bestaande volk wil bewaar, is dit nodig dat die basis van die begin af reg is en ons nie later met ʼn klomp individue, of erger, verskillende etniese subgroepe sit wat niks voel vir Orania en sy strewe nie en wat nie bereid is om hulle deel tot sy uitbou by te dra nie.

Geskryf deur Sebastiaan Biehl: Orania Blog


 

Leave a Reply