Orania is sinoniem met uitsluiting en diskriminasie, so hoor ons dikwels, veral in die media, omdat ons onomwonde sê ons is ʼn Afrikanergemeenskap met ʼn Christelike grondslag wat volkseie arbeid gebruik en strewe na selfbeskikking, en dus sluit ons nie almal by ons gemeenskap in nie.

“Kan ek as iemand wat ʼn probleem met bogenoemde het of nie een daarvan is nie Orania toe kom?” word dikwels gevra. Jy kan soos almal aansoek doen, maar hoekom wil jy deel van ʼn gemeenskap wees waar jy nie inpas nie en as die grondbeginsels jou pla? Dit wat almal eerste aantrek, naamlik veiligheid, het nie so seer te doen met goeie veiligheidsdienste (dit wel ook) of hoë heinings nie (wat ons nie het nie), maar met die homogene aard van ons gemeenskap, waar mense mekaar ken en mekaar vertrou en waar nuwe intrekkers eers verblyfreg moet kry, en les bes, met volkseie arbeid. Veiligheid is ook nie die primêre rede vir Orania se bestaan nie, maar die bewaring en uitbou van ʼn volk in bedreiging.

Carel Boshoff, die president van die Orania Beweging, het dit nogal goed beskryf: Orania is soos ʼn koekresep: as jy hou van die koek en dit wil bak, dan moet jy hou by die resep. Dit help nie jy besluit jy los sekere bestanddele uit en sit ander by, dan het jy ʼn heel ander koek wat heel waarskynlik nie meer so lekker gaan smaak nie.

Orania se bestanddele, wat deel uitmaak van ons sukses, is Afrikaans, Christenskap, eie arbeid, lokalisme, gemeenskap, gesinswaardes. As daar nou ʼn persoon kom en sê: ek hou van Orania, maar ek is Engels, word asseblief Engels ter wille van my, of ʼn ander een sê: ek hou van Orania, maar laat vaar asseblief die eie arbeid want ek wil my bediende saambring, of nog iemand sê: ek is ʼn ateïs, so doen asseblief weg met julle klem op Christenskap, dan is Orania net nie meer Orania nie, maar ʼn plek soos enige ander een ook.

Ons kan tereg vra: hoekom wil jy dan in Orania bly as dit op ander voorwaardes is? Hoekom voel jy as Engelssprekende/sekulêre/multi-kulturele persoon dan nie tuis waar jy is nie en waar jy dit alles het? Dalk omdat jy nie bereid is om die nadele wat met so ʼn opset saamgaan te aanvaar nie, naamlik vervreemding, hoë misdaad, morele verval? As jy in Orania wil bly dan pas jy aan by die gemeenskap en hulle waardes, nie andersom nie.

Dit is moeilik verstaanbaar in ʼn era waar die regte van die kleinste subgroep of sogenaamde minderheid uitgelig word en waar daar onder geen omstandighede teen iemand “gediskrimineer” moet word nie (al word daar weer diskriminasie van ‘na der soort toegepas). Alles gee vir iemand aanstoot en moet verwyder word, en wat oorbly is ʼn van alle geskiedenis, sin en betekenis gestroopte globalistiese verbruikerssamelewing. Dieselfde mense wat so ʼn samelewing afgedwing het, kom nou agter dat dit in ʼn nagmerrie ontaard het. Nou soek hulle die idilliese, veilige Orania, maar op hulle voorwaardes.

Ons in Orania was en is nog steeds bereid om die prys te betaal wat saamgaan met ons opset wat ons verkies, naamlik om gereeld gespot te word of deur joernaliste soos ʼn eksotiese spesie hanteer te word, om ekonomies minder welvarend te wees, om baie tyd en energie in te sit in gemeenskapsprojekte om mense op te hef, om beperk te wees wat gerief en goedkoop arbeid betref. Dit is egter deel van die wenresep, wat ʼn baie lekker koek maak, en daarom gaan ons nie daaraan torring nie.

Bygesê, anders as wat die persepsie is, is ons ook met die spesifieke “bestanddele” ʼn redelik diverse gemeenskap en is dit geen maklike taak nie om almal tevrede te stel en by die gemeenskap te laat inskakel. Mense kom uit alle oorde van die land, uit alle klasse, hier is oud, middeljarig en jonk, van nominale Christene wat selde kerk toe gaan tot baie toegewydes, feitlik alle denominasies, hoogs geleerdes en ongeskooldes ensovoorts. ʼn Aftreeoord of golflandgoed, al is dit oop vir “alle rasse, kleure, gelowe ens” solank dit net ʼn sekere ouderdoms- of inkomstegroep is, is baie meer homogeen as Orania. Die “alles vir almal/gelukkige multi-kulturele samelewing” is in elk geval ʼn fantasie wat nêrens werklik bestaan nie. Kies vir jou ʼn plek waar jy inpas, maar moenie dit wil verander wat die wese van so ʼn plek uitmaak nie.

Deur: Sebastiaan Biehl/Oranie Blog


Leave a Reply