Die behoefte onder ons mense is groot en daagliks kry ons versoeke van Afrikaners wat vra oor werk en behuising in Orania.

Daar is ‘n verskil tussen iemand wat na Orania toe trek oor die ideaal en wat probeer uitvind watter werk daar is en watter eiendomme te huur of te koop is, wat vir enige verhuising ‘n voorvereiste is, en mense wat iewers gehoor het dat Orania arm Afrikaners help en wat wil kom met die verwagting dat Orania ‘n welsynsdorp is waar jy van toelaes en in gratis woonstelle kan bly.

Ten eerste is ons fondse heeltemal te min om groot getalle Afrikaners deur middel van welsyn te help. Dink aan die reuse bedrae wat elke maand in staatspensioene uitbetaal word (wat nie eers lewensvatbaar is nie), en jy kry ‘n idee. Orania kan nie ‘n halfmiljoen behoeftige Afrikaners onderhou nie, nie eers 10 000 of ‘n duisend nie. Wat is dan die doel van Orania, sal mense vra, as julle nie iets kan doen aan die volk se ellende nie? Is dit dan net vir rykes?

Daarop kan ons tweeledig antwoord: ons help arm Afrikaners wel en op verskillende vlakke. Gousblom Ontwikkeling subsideer behuising deur woonstelle en huise onder markwaarde te verhuur wat R150 000 per maand kos. Daar is nog nuwe behuisingsskemas in beplanning. Bydraes word ook uit Orania instellings gemaak vir die maatskaplike werker, vir die kliniek, vir Oramed. Daar is ook private hulpinstellings en die kerke wat ook op talle terreine help. Die doel is daarby om mense op die been te help. Die belangrikste hulp vir arm Afrikaners word egter deur die vrye mark beskikbaar gestel en nie deur instansies nie, naamlik werk. Omdat hier ʼn beleid van volkseie arbeid geld, en omdat ekonomiese groei en ondernemerskap aangemoedig word, deur goeie administrasie, deur die Ora, deur lokalisme, deur lojale kliente, is daar altyd iewers werk en het ons geen werkloosheid nie.

Wat ons egter nie doen nie, is om mense se armoede te subsidieer. Hier is geen maandelikse toelaes vir arm gesinne nie, en ook geen gratis behuising nie. In die eerste plek het ons nie nog meer geld vir maatskaplike uitgawes nie, maar selfs al het ons onbeperkte fondse, sou dit verkeerd wees om welsynstoelae uit te deel. Dit is al so dikwels bewys: as jy iets subsidieer, kry jy meer daarvan. Wil jy werkloosheid of armoede subsidieer? Beslis nie. Daarom moet ons ook sê: niemand baat daarby as ons wit plakkerskampe Orania toe skuif nie. Ons kan nie onbeperk arm Afrikaners help nie, selfs al bloei ons hart vir hulle, want as hier later net nog armes is, wie moet vir hulle werk gee, wie moet hulle ophef, materieel en kultureel en geestelik? Dat daardie stelsel nie werk nie sien ons juis in die ANC-beheerde Suid-Afrika. Miljarde toelaes kon nog nie armoede oplos nie, in teendeel, die armes word net meer en meer. As ons Orania omring met wit plakkerskampe, sal dan enigiets anders wees as in ander dorpe net omdat hulle wit is?

Ons wens ons het ʼn resep om Afrikanerarmoede en ellende as geheel aan te spreek. Wat ons wel het, is ʼn resep om Afrikaners wat gewillig is, maar weens omstandighede buite hulle beheer uitgesak het, weer op te tel sodat hulle weer hulle selfrespek kan herwin en weer ander kan help.

Bron: Orania Blog
Skrywer: Sebastiaan Biehl


5 responses to “Hoekom kan Orania nie alle arm Afrikaners help nie?”

  1. Stem saam,jy kry lui afrikaners wat kan werk maar te sleg is om te werk en net wil he,meantime staan die bierbottel daar en loop hulle met siggarette in die hand.Een pakkie is amper 4 brode se prys.Moenie van orania n plakkerskamp maak nie

    Reply
  2. en dit is heeltemal verstaande. mens kan nie een probleem net verskuif en dink dit moet opgelos word ni.

    Reply
  3. Ek wil graag n voorstel maak, maar nie op n openbare platform soos FB nie.
    Ek verkies om dmv e-pos te kommunikeer en ek verneem graag van julle.

    Reply
  4. Ek stem 100% saam. Van ons Afrikaaners is te sleg om te werk en om die son te sien skyn oor n ander . Wil net he. En sit en kuier. “IN DIE SWEET VAN JOU AANGESIG SAL JY JOU BROOD VERDIEN.”

    Reply

Leave a Reply