Die gesegde lui dat niks so onkeerbaar is as ‘n idee waarvoor die tyd ryp is nie. Hiermee is die idee se aanvaarbaarheid afhanklik van die tydsgleuf waarin dit ontvang word, terwyl die tyd self onkeerbaar voortstoom. Laasgenoemde skep die vermoede dat indien die idee nie soos ‘n veldbrand versprei nie, die tyd nie daarvoor ryp is nie en dat daar moontlik min salf aan te smeer is. Volgens baie Afrikaners se kommentare op sosiale media gaan dit “nog te goed” met Afrikaners om die Orania-ideaal op groot skaal te ondersteun, wat gesien word as “teken dat die tyd nie ryp is nie.”

Die Amerikaanse mediese dokter en navorser, dr. Atul Gawande, het die verskynsel dat sekere idees vinniger aangeneem word as ander vanuit ‘n mediese hoek toegelig in ‘n artikel in die New Yorker. Hy verduidelik hoe uiteenlopend daar gereageer is op twee van die mees belangrike deurbrake in die mediese wêreld gedurende die negetiende eeu.

Eerstens was daar die ontdekking van narkose wat soos ‘n veldbrand versprei het. Tweedens was daar die ontdekking van ontsmetting en die belangrikheid daarvan om die hoë sterftesyfer wat met operasies gepaard gegaan het (soos veroorsaak deur infeksies) te verminder. Laasgenoemde het in teenstelling met narkose dekades geneem om deur chirurge aanvaar en algemeen te gebruik word.

Op die oog af is daar nie ‘n voor-die-hand-liggende rede waarom narkose meer geredelik aanvaar is as ontsmetting nie. Beide het belangrike voordele vir die pasiënt inghou: onder narkose het die pasiënt nie geswoeg en gespartel tydens die operasie nie en kon die chirurg sy tyd neem om noukeuring die prosedure uit te voer. Ontsmetting het die kanse dat die pasiënt die operasie hoegenaamd sou oorleef drasties verhoog.

Dr. Gawande skryf die verskil in tempo waarteen die idees versprei het toe aan twee faktore: die sigbaarheid van die probleem wat aangespreek word (hoe sigbaarder die probleem, hoe makliker word die idee aangeneem) en die mate waartoe opofferings nodig is om die idee te implementeer (hoe minder opofferings nodig is, hoe makliker word die idee aangeneem).

Die effek van narkose was onmiddelik sigbaar, terwyl die aanneming van die idee die lewe van die chirurg vergemaklik (hy hoef nie meer met ‘n spartelende pasiënt te stoei nie). Ontsmetting daarteenoor het ‘n onsigbare probleem aangespreek wat ‘n vertraagde effek het (kieme kon nie waargeneem word nie en dit neem dae vir die simptome van infeksie om sigbaar te raak), terwyl dit die lewe van die chirurg heelwat bemoeilik het: die chirurg moes pynlik versigtig wees om die teater, sy gereedskap, sy klere en sy persoon te steriliseer terwyl die Fenol wat gebruik is om te steriliseer, sy vel gebrand het. In kort moes die chirurg opofferings maak vir ontsmetting om te werk wat nie nodig was vir narkose nie.

Dit bring ons by die ou wysheid dat opofferings dikwels nodig is om groot (maar dikwels onsigbare) uitdagings te oorkom. Dr. Jordan B Peterson, professor in kliniese sielkunde aan die universit van Ontario, bespreek die wysheid van offervaardigheid. Volgens hom word hierdie wysheid in die mens se oudste verhale vervat. In ons Christelike tradisie merk ons die belangrikheid van opoffering van die regte offers die eerste keer in die verhaal van Kain en Abel. Abel en Kain het beide offers gebring en Abel se offers was goed en hy was vooruitstrewend, terwyl Kain nie die nodige opofferings gemaak het om suksesvol te wees nie. Toe God vir Kain hieroor aanspreek, was Kain uiters ontevrede toe hy daarop gewys is dat die tekortkoming van sy eie offers die oorsaak van sy probleme was. In plaas daarvan om die nodige offers te bring, vertroetel Kain sy ongelukkigheid wat toe in wrewel ontaard en uiteindelik op die moord van sy broer uitloop.

Die verhaal van Pinnochio beskryf ook die belangrikheid van offervaardigheid. Gepetto die skrynwerker skep ‘n mannekyn wat hy wens die kind sal word wat hy nooit gehad het nie. Sy wens word gedeeltelik bewaarheid en Pinnochio begin leef as hout pop, met die belofte dat hy ‘n regte seun sal word op voorwaarde dat hy homself as verdienstelik bewys. Pinnochio word egter verlei en na Plesiereiland geneem waar hy en ander kinders na hartelus hulself kan verlustig in allerlei impulsiewe begeertes en plesier. Daar is egter ‘n kinkel in die kabel: wanneer die kinders hulself verkwik in impulsiewe plesier, verander hulle in donkies en word hulle as slawe-arbeid verkoop. Om hierdie uitende te ontsnap moes Pinnochio die plesier van impulsiewe begeertes opoffer. Later is Pinnochio se wens om ‘n ware seun te word verwesenlik eers nadat hy homself bereid bewys het om sy eie lewe op te offer om Gepetto, sy skepper te red.

Ons weet uit eie ervaring hoe belangrik opofferings is. Neem die eenvoudige voorbeeld van die spaar van geld: wanneer ons spaar, offer ons die onmiddelike genot wat ons kan put uit die spandering van die geld op vir toekomstige voordeel. Verder het baie van ons ouers reuse opofferings gemaak om ons na universiteite of tegniese kolleges te stuur vir verdere studies, terwyl die van ons wat ons studies suksesvol voltooi het, baie opofferings moes maak om die kennis sodanig te bemeester om deur te kon kom. Hoeveel sosiale aktiwiteite moes ons opoffer sodat ons kon swot vir ‘n eksamen?

Hoe het dit dan gebeur dat chirurge uiteindelik bereid geword het om die nodige opofferings te maak ten einde die voordele van ontsmetting te ontsluit? Het die tyd bloot daarvoor ryp geword? Die antwoord volgens dr. Gawande is nee.

Daar het eerder ‘n baie spesifieke herbeskouing van wat dit beteken om ‘n chirurg te wees, plaasgevind. Chirurge het aanvanklik swart oorpakke gedra. Die swart kleur het die droë gekoekte bloed van hul vorige pasiënte beter versteek. In hierdie swart oorpakke het chirurge hulself as krygers gesien wat deur spoed die stryd teen bloedverlies en spartelende pasiënte moes wen. ‘n Groep dokters in Duitsland het egter ‘n ander benadering ingeneem en hulself eerder as wetenskaplikes met wit oorpakke beskou. Daardeur het hul klem op kennis en presisie eerder as spoed geplaas. Die metodes vir ontsmetting het baie goed by hierdie veranderde etos ingepas. Hierdie kulturele verandering is later aangeneem en nageboots deur mediese studente uit Amerika en ander lande wat in bewondering gestaan het voor die sukses van die Duitse chirurge.

Afrikaners staan vandag ook voor ‘n onsigbare probleem: ons woon yl verspreid oor Suid-Afrika en is daardeur polities ontmagtig en kwesbaar vir kriminele. Ons word geteiken weens ons isolasie en ook omdat ons anders lyk, klink en leef as die meerderheid mense waartussen ons woon. Om die probleem te oorkom moet ons opofferings maak: ons moet bydra tot die ontwikkeling van Orania en haar omgewing waar ons beide ‘n getallemeerderheid kan vorm en genoeg hulpbronne (insluitend grond) kan beheer om genoegsame selfstandigheid te bereik om die vergrype van die regerende klas en die misdadige elemente van Suid-Afrika te ontsnap. Daar is ook ander opofferings wat gemaak moet word, soos om op te hou om so afhanklik van vreemde arbeid te wees.

Die vraag is, hoe moet Orania herbeskou (en heraangebied) word om die offers wat daarvoor nodig is aanvaarbaar te maak? Groter swaarkry onder Afrikaners is nie noodwendig die geheime bestanddeel wat vermis word nie, want hoe swaar dink julle was dit om weens infeksie te sterf na ‘n operasie? Hierdie swaarkry het nie die aanneming van ontsmetting bespoedig nie. Die gevaar is dat die swaarkry die pasiënt laat sterf voordat die oplossing aangeneem word.

Geskryf deur Ebert Terblanche/Orania Blog


Leave a Reply