ʼn Stappie deur Orania, verlede week, om ons vriende ʼn kykie in die lewenstyl en daaglikse bedrywighede van die dorp te gee, het in Sonpak, Grootgeluk gaan draai. ʼn Foto of twee van die fraai “skeepshouerhuisies” daar, het soveel aandag getrek op ons facebookblad dat ons die eienaar, dr Ben de Klerk, genader het vir nog inligting.

Dr de Klerk praat met groot passie van sy bedrywighede en projekte op Orania – hy “leef sy droom” soos hy dit omskryf. Hy was van die begin van Orania daadwerklik betrokke om aan die strewe van Orania inhoud te gee waarvan een die vestiging van hierdie unieke gemeenskap is. Dit moes onder andere bekostigbaar wees vir werkers- en middelklasinwoners omdat dit vir hom ook ‘n manier was om die gemeenskap van Orania te dien.

Destyds, as gevolg van reëls en regulasies rondom die voorsiening van elektrisiteit en water, moes hy hom noodgedwonge wend tot sonkrag en boorgatwater op sy hektaar grondjie net langs die dorp. Tot sy vreugde was daar baie sterk water raakgeboor – vandaar die naam Grootgeluk, Sonpark!

Dit was die groter aansporing vir ‘n idee van ‘n volhoubare woonbuurt wat onafhanklik van munisipale dienste funksioneer sonder kommersiële oogmerke. Groentetuine, kruietuine, vyelanings en vrugtebome is aangeplant om kos te voorsien, maar ook om ‘n kultuur te kweek waar selfwerksaamheid en verantwoordelikheid arbeidsvreugde in die gemeenskap stimuleer. Dit het ook ‘n eie rioolaanleg waar die herwinde water gebruik word om tuine nat te lei.

Al die huisies is tans verhuur teen om en by R 2500 – R3500 per maand en sluit natuurlik munisipale heffings en die rompslomp van sodanige administrasie uit. Sy pekanneutplaas, Dendron Boerdery, is ook ondersteunend tot die gemeenskap wat mannekrag en implemente betref. Die koste om so ‘n eenheid te vestig wissel – verskeie faktore, soos hoeveel die skeepshouer kos, vervoerkoste na Orania, isolering en kennis van die installering van sonenergie, speel ‘n rol.

Hy beplan ‘n volgende reeks van sewe tweeslaapkamer-meenthuisies langs die bestaandes – hierdie keer steengebou vir beter isolering teen uiterste temperature asook ‘n speelpark vir kinders.

Die sonpanele op die dakke, watertenke, drie boorgate, kruietuintjies, vrugtebome, vrylopende hoenders en rustige arbeidsaamheid rondom die versorging van die omgewing is ‘n lus vir die oog en méér: dit voel na ‘n tuiskoms van ’n dieper sieleaard!

Mens wonder of die tyd nie ryp is dat hierdie soort projekte met groot sukses aangepak kan word nie – te oordeel aan die groot belangstelling en ook omdat dit inpas by ‘n moderne groen kultuur van hulpbronbesparing en “minder is meer”. Hoe lyk dit mediese dokters en almal wat op ‘n uniek-gesonde manier wil bydra tot sorgsame selfstandigheid vir ons mense!

Deur: Ester Le Roux/Orania Blog


Leave a Reply