Pieter Hattingh is op sy plaas Doringfontein op 16 Januarie 2003naby Roedtan aangeval. Hy is Sondag 19 Januarie 2003 aan sy beserings oorlede.

Twee sinnetjies. Twee kort sinnetjies wat my sommige aande laat wakker skrik. Ek is Pieter Stephnaus Krige en ek wil graag met julle hierdie twee sinne deel, omdat hierdie twee sinne my lewe aangrypend verander, nie net in 2003, maar daagliks. Hierdie twee sinne is moontlik die grootste motivering hoekom ek met angs en oorgawe my volle gewig en energie binne Orania uitwoel. Hierdie twee sinne is in ’n sekere sin, op ‘n diep persoonlike vlak, lotsbepalend, omdat dít my maak wie ek vandag is.

U sien, Pieter Johannes Hattingh, was my Oupa gewees, my ander Oupa het ek nooit kon ken nie, hy is jare voor my aankoms in hierdie wêreld al na ons Heer, maar Pieter Johannes Hattingh was die oupa wat ek as oupa Boet geken het. Soos die tyd aanstap, onthou mens grepe, gebeure; hoe hy altyd skelm R20 in my sak kon druk na ’n kuier en ons moes ry; hoe hul huis altyd vol tipiese plaasdinge versier was, ek bedoel nie boerdery implemente en goed nie, nee dit het op die werf rondgestaan, ek bedoel die gangtoonkas vol Kayserpype en modeltrekkertjies, porseleinbeeldjies en teelepels met embleme. Ek onthou hoe hy altyd te hard moes praat, soms tot verleentheid toe, omdat hy nie meer kon hoor nie; hoe hy al gevra is om liefs maar Absa banktakke te vermy in die toekoms, omdat hy op sy growwe manier aangedring het op beter diens.

16 Januarie 2003. Ek was as student tuis, by my ouers se huis, toe die oproep deurkom. Ek kon aflei uit my ma se gesig en stemtoon, dat dit ernstige, slegte nuus is. Die atmosfeer was daardie maagdraai swaartipe, angstige nuus. Angstig het ons gewag totdat ma kom vertel: “Oupa Boet is op die plaas aangeval…” “80 jaar oud en erg hardhorend…dit was seker maklik om hom te oorval…” dink ek.

Ons het gepak en deurgery, Pietersburg Hospitaal, die rit was van die stil en lang tipes, soos in ’n begrafnisstoet. Daar het ek hom gevind, hy het klein gelyk so tussen die bloedbesmeerde lakens. Hy kon praat, maar was nie by sy bewussyn nie, hy was in ’n angsdroom vasgevang. Sy woorde hoor ek nou nog: “Here help my!” angstig en oor en oor. “Here help my!”

Die Here het hom gehelp, sy sambok- en ysterpypvernielde tentewoning is afgebreek en hy het hierdie tydelike verwissel met die ewige. Dit is vandag die eerste keer dat ek hieroor skryf, meer as 14jaar later en nog steeds hoor ek die uitroep, sien ek sy bebloede gesig: “Here help my!”

Ek blaai deur Treurgrond, lees die duisende tweesin-aankondigings en ek dink aan die telefoonoproep wat met elke aanval gepaard gegaan het, ek dink vandag aan duisende van ons mense wat met strykysters gebrand is, sambokke geslaan is, in kookwater verdrink is, verkrag is…Ek dink vandag aan my oupa Boet, MY OUPA, my oupa…vandag bid ek: “Here help my! Want U weet, U sien wat hier aangaan.”

Twee sinnetjies wat die einde van my Oupa se lewe aankondig: Pieter Hattingh is op sy plaas Doringfontein naby Roedtan aangeval. Hy is Sondag 19 Januarie 2003 aan sy beserings oorlede.

Here, help my…want ek sal nooit vergeet nie, ek sal nooit daaroor kom nie, ja ons gaan aan, ons leef, ons bou, ons werk, maar elke nuwe berig op die koerant of oor die radio neem my terug na daardie dag in 2003.

Sy naam was Pieter Johannes Hattingh en hy was my Oupa.

Geskryf deur: Pieter Krige inwoner Orania


Leave a Reply