Die Afrikaner het vir die grootste deel van sy geskiedenis stroomop geswem. Daar word deur ons vyande beweer dat ons agter die tyd is en in die verkeerde eeu leef. Die trekboere en Voortrekkers is as argaïes beskou met hulle landelike veeherder- en rondtrekleefwyse in ʼn tyd waar Europa sterk geïndustrialiseer en verstedelik het. ʼn Mens kan egter anders daarna kyk, naamlik dat die Voortrekkers oftewel Afrikaners al vryheidsgesind was in ʼn tyd waar Europeërs tevrede was om onder absolute heersers te staan. Die Afrikaners was eintlik veel nader aan die vryheidsgesinde Amerikaners as aan die Europeërs in die verband.

Die stryd vir vryheid loop soos ʼn goue draad deur die Afrikaner se geskiedenis en dit is iets om op trots te wees. Reeds in die tyd van die VOC – bewind het die Vryburgers onder leiding van Adam Tas teen beperking op hulle ekonomiese vryheid en teen onregverdige monopolieë deur die kompanie beswaar gemaak. Alhoewel dit nog geen republikeinse beweging was nie, was die gees van burgerlike vryheid en beperking op die mag van die owerheid by hulle aanwesig. Die eerste proto- republieke van die Afrikaners was Graaff-Reinet en Swellendam wat in 1795 in verset teen die kompanie en sy onbekwame amptenare gekom het en hulleself onafhanklik van die kompanie verklaar het, maar nog steeds die Vrye Republiek van Nederland as hoogste gesag erken het. Die hoogste bestuursliggaam was die Nasionale Konvensie of Nasionale Vergadering, en die Nasionale Landdros was die president. Kort na die stigting van die twee republieke het Groot-Brittanje die beheer van die Kaapkolonie oorgeneem en ook gepoog om sy gesag in Graaff-Reinet af te dwing. Die burgers het egter geweier om dit te aanvaar of om ʼn eed van getrouheid af te lê. Hulle is egter na minder as ʼn jaar van eie bestaan militêr deur die nuwe Britse bewind onderwerp. Historici is dit oneens of dit ʼn eerste republikeinse poging van die Afrikaners (oftewel Nederlanders in Suid-Afrika) was, en of dit veral oor griewe soos veiligheid, arbeid en belasting gegaan het en daar geen groter politieke doel was nie. Bygesê, ook die Amerikaanse vryheidstryd het begin met ongelukkigheid oor belasting.

Die tyd van republikanisme onder die Afrikaners was veral die 19de eeu, meer spesifiek die Groot Trek van 1836-1838 en die tyd daarna. Na die oorwinning by Bloedrivier oor die Zoeloes is die Republiek Natalia na ʼn verdrag met die Zoeloes in 1839 gestig. Pietermaritzburg was die hoofstad waar ook die Volksraad gesetel was. Ook in die Noordelike Vrystaat het die Voortrekkerrepubliek van Winburg en noord van die Vaal die Republiek van Potchefstroom tot stand gekom. Andries Pretorius, die leier van Natal, het gepoog om die drie republieke te verenig. Na net 4 jaar, in 1843, het Brittanje egter Natal verower en dit ʼn Britse kolonie gemaak. Potchefstroom en Winburg het in reaksie daarop verenig en die Voortrekkers in Natal opgeroep om eerder oor die Drakensberge na die vrye binneland te trek as om onder Britse bewind te bly, wat die meeste gedoen het. In veral die gebied noord van die Vaalrivier het wydverspreide, kortstondige republieke ontstaan soos Ohrigstad, Lydenburg, Soutpansberg en Utrecht. Daar het egter ʼn vrye verkose Volksraad as oorkoepelende liggaam van die verspreide Voortrekkers en ʼn grondwet bestaan, alhoewel die sentrale gesag ontbreek het. Geografiese en institusionele saamvoeging was ʼn gedurige uitdaging vir die leiers. Die tendens om eerder af te skei en te isoleer pleks om ʼn groter Voortrekkerstaat te stig was baie sterk. Behalwe vir die verdeeldheid onder mekaar was daar die sterk vyandige kragte van Groot-Brittanje as imperiale mag, aan die een kant, en swart volke soos Zoeloes, Ndebeles, Xhosas en Basothos wat gereeld die Voortrekkerstate aangeval het, aan die ander kant. Nogtans kon die Voortrekkers met Britse verteenwoordigers onderhandel om die onafhanklikheid van Transvaal met die Sandrivierkonvensie van 1852, en van die Oranje-Vrystaat met die Bloemfonteinkonvensie van 1854 te erken.

Vir bykans ʼn halfeeu het twee soewereine, demokratiese Boererepublieke in die sentrale en noordelike binneland van Suid-Afrika bestaan. Benewens hulle was daar ook kortstondige Boererepublieke soos Stellaland en Goosen in die gebied van Mafeking en Vryburg, die Nieuwe Republiek in Noord-Natal en die Republiek van die klein Vrystaat in ʼn deel van Swaziland. Ten spyte van talle oorloë, ekonomiese benoudhede en interne woelinge kon die twee republieke Transvaal (Zuid-Afrikaansche Republiek) en Oranje-Vrystaat hulle onafhanklikheid handhaaf en geleidelik groei en gedy. Die Oranje-Vrystaat is selfs ʼn modelrepubliek genoem. Die praggeboue uit die bloeityd van die twee republieke aan die einde van die 19de eeu, soos op Kerkplein in Pretoria en in Brandstraat in Bloemfontein, wys die graad van trots en gesofistikeerdheid wat die twee republieke bereik het. Al twee het al die eienskappe van ʼn republiek gehad: ʼn verkose volksraad met ʼn verkose president wat gereeld gewissel het, ʼn grondwet, ʼn vlag, ‘n volkslied, ʼn verdedigingsmag en ʼn staatsadministrasie. Die twee republieke met hulle demokratiese aard was eintlik in die laat 19de eeu voor hulle tyd. In Afrika van die tyd het dikwels tiranniese konings oor swart volke geheers, of Europese moondhede het kolonies direk en hiërargies beheer. Dit is ook betekenisvol dat die Afrikaners nooit enige konings of diktators gehad het nie, en dat die beginsel van vrye burgers wat ʼn verteenwoordige liggaam met ʼn tydelike voorsitter of president verkies, die essensie van republikanisme, so sterk gevestig was en is. Net die VSA het ʼn soortgelyke politieke aard gehad. Die Latyn-Amerikaanse republieke het dikwels in diktatorskappe ontaard en in Asië en Europa was monargieë die reël.

Na die verlies van die Boererepublieke se onafhanklikheid in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 het die Afrikaners se stryd om republikanisme in die 20ste eeu onverpoosd voortgegaan. Aandrang op demokratiese deelname, mobilisering en geduldige onderhandeling vir konstitusionele ontwikkeling met Brittanje eerder as militêre verset was die aangewese weg (ten spyte van die 1914 rebellie en die Ossewa Brandwag in die 1940’s). Die strewe na ʼn republiek was die Afrikaner se groot ideaal in die eerste helfte van die 20ste eeu, en het na die Tweede Wêreldoorlog en met die oorwinning van die Nasionale Party in 1948 momentum gekry. Terwyl die Afrikaner in die 19de eeu met hulle republikanisme teen die stroom geswem het te midde van imperialisme, het imperialisme in die 20ste eeu sy appèl en krag verloor. Die stryd vir ʼn eie republiek los van Britse bande is in talle ander kolonies geëggo.

In 1961 kon Suid-Afrika die ideaal bereik onder eerste minister Hendrik Verwoerd. Die republiek van 1961 het egter die groot tekortkoming gehad, wat dit ook van Boererepublieke in die 19de eeu onderskei het, dat dit ʼn multi-etniese republiek was (al is dit ontken), en reeds te groot vir dié staatsvorm was om werklik gepas te wees. Suid-Afrika is vandag nog steeds ʼn republiek, maar dit het min in geneem met die aanvanklike, oorsigtelike burgerrepublieke met ʼn klein grondgebied en ʼn etnies homogene bevolking. ʼn Party wat vir dekades regeer, met ʼn korrupte elite wat meer en meer bronne van mag en kapitaal in hulle hande konsentreer en deur manipulasie van arm massas verkiesings wen, het niks meer te doen met die oorspronklike bedoeling van ʼn republiek nie. Trouens, dit laat ʼn mens dink aan die finale jare van die Romeinse Republiek.

Orania se strewe na ʼn Afrikanerrepubliek knoop aan by die Voortrekkers se strewe om in ʼn groot Suid-Afrika met ʼn diverse bevolking ʼn stuk vryheid in ʼn beheerbare grondgebied vir hulleself op te eis, wat etnies homogeen en demokraties georden is en ʼn sterk Christelike karakter het.

Deur: Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply