Die term republiek en republikanisme het nog steeds ‘n sterk klank en appèl in Afrikanerkringe. Ook die Orania Beweging streef na ‘n Afrikanerrepubliek as uiteindelike doel. Wat beteken ‘n republiek en republikanisme? Volgens die huidige begrip beteken die staatsvorm van ‘n republiek dat ‘n (verkieslik verkose) president aan die spits van die staat staan en nie ‘n erflike monarg nie. Verreweg die meeste state vandag, ook Suid-Afrika, is republieke en state wat ‘n koning as staatshoof het, is die uitsondering. Daar is ook allerhande variasies van republieke, soos ‘n sosialistiese republiek of volksrepubliek, ‘n demokratiese republiek, of ‘n Islamitiese republiek.

Die Romeinse Republiek

Laat ons by die begin begin. Republiek is afgelei van res publica uit Latyn, wat beteken “die openbare aangeleentheid of saak”. Nog voor die Romeine het die ou Grieke ook reeds ‘n stelsel van stadstate gehad wat talle ooreenstemmings met die Romeinse Republiek gehad het, maar die naam republiek kom van die Romeine af en hulle stelsel die bloudruk vir latere republieke geword. Die Romeinse Republiek het gevolg op die Romeinse koningryk, wat deur ‘n volksopstand teen die tirannie van koning Tarquinius Superbus in 510 voor Christus beëindig is. Die staat was voortaan nie meer die besit en verantwoordelikheid van die koning nie, maar van die burgers (wat in die tyd net mans met burgerregte was). Die beginsel was die beheer deur die burgers deur middel van deelname en die verdeling van mag tussen verskillende instansies en persone. Aan die spits van die staat was die konsuls. Daar was altyd twee konsuls wat saam regeer het en mekaar kon veto om mekaar in toom te hou, en hulle is net vir ʼn termyn van ‘n jaar verkies. Die konsuls het die weermag gelei, die senaat voorgestaan en wette voorgestel. Die senaat was ‘n nie-verkose liggaam met veral ‘n raadgewende en debatterende funksie en is saamgestel uit verdienstige senior burgers, almal adellikes. Hulle het lewenslank gedien, maar kon deur die censor weens wangedrag van hulle posisie onthef word. Benewens die senaat was daar ‘n verkose liggaam, die comitia centuriata wat uit adellikes saamgestel is en die konsuls verkies en wette aanvaar het. Later het op druk van die gewone burgers ‘n concilium plebis bygekom, wat die volkstribuun as hulle verteenwoordiger gekies het. Om in tye van oorlog nie deur te veel kompeterende instansies lamgelê te word nie, was daar ook die funksie van die diktator, wat egter streng tot 6 maande beperk was en wat na die einde van ‘n oorlog of krisistydperk weer sy amp moes opgee. Daar was ook geskrewe wette, en die Romeinse regspreking is die basis van die Westerse regstelsel. Moderne terme soos senaat, magistraat, komitee en sensus wys hoe diep die Romeinse staatsbestel die Westerse een en uiteintlik die hele wêreld s’n beïnvloed het.

Die Romeinse Republiek was geen demokrasie in die huidige sin nie, en die adellikes (patrisiërs) het meer mag as die gewone burgers (plebejers) gehad en aanvanklik kon net die adellikes ampte beklee. Na talle konflikte en wrywings tussen die twee groepe kon die plebejers meer magte kry, tot hulle uiteindelik teen 287 voor Christus ten volle gelyk voor die reg was. Die plebejers het besef dat hulle die grootste las van die staat dra, byvoorbeeld as soldate en boere, maar nie behoorlik verteenwoordig was nie, en het deur ‘n staking hulle mag gewys en die elite gedwing om aan hulle eise toe te gee. Benewens die senaat vir die adellikes het die plebejers hulle eie volksvergadering gekry en as hulle verteenwoordiger die volkstribuun. Dit het lank gevat, deur ‘n proses van trial and error, tot die Romeinse Republiek sy uiteindelike vorm gekry en goed gewerk het, nog steeds met talle beperkinge. Nogtans was dit vir daardie tyd, waar omtrent orals absolute konings geheers het, ‘n voorbeeldige staatsbestel. Moraliteit en sedes was hoog en dit is as eer beskou om die staat te dien, nie as ʼn manier om mag en geld te versamel nie.

Soos wat Rome van ‘n stadstaat met ‘n hinterland verander het in ‘n groot ryk wat verder as die Italiaanse stamland gestrek het, het die republiek egter voor meer en meer uitdagings gekom. Sy leiers het korrup en magsbehep geraak soos wat die militêre en die uitbreiding van die grondgebied al hoe belangriker geword het en populêre generaals die senaat se gesag uitgedaag het. Dieselfde persone is weer en weer as konsuls hries en diktators het nie meer by hulle termynbeperkingegehou nie en selfs krisisse geskep om aan bwind te kon bly. Julius Caesar se gevegte teen die senaat in die naam van die volk (maar eintlik ter wille van homself) is ‘n bekende voorbeeld daarvan, maar daar was ander voor hom soos Marius en Sulla. Die Romeinse Republiek is amptelik in 27 voor Christus beëindig en deur die keiserryk vervang, alhoewel dit reeds dekades voor die datum terminaal siek was. Die hoofrede vir die afskaffing van die republiek was dat Rome, wat aanvanklik ‘n stad met ‘n hinterland was, eenvoudig te groot, geografies uitgestrek en etnies te divers geword het en op republikeinse manier met verdeling van mag nie meer beheerbaar was nie. ‘n Republiek pas by ‘n klein, oorsigtelike en etnies homogene entiteit, nie by ‘n ryk nie. Dit is ook nie toevallig nie dat ook later die groot Europese Ryke, met of sonder hulle koloniale verlengstukke, feitlik almal monargieë was.

Van die Middeleue tot die Renaissance

Vir eeue was die groot ryke met ‘n absolute heerser die aangewese staats- en regeringsvorm en was die idee van ‘n republiek met burgerlike deelname en verdeling van mag vergete, alhoewel in die uithoeke van die wêreld en buite die radar van die groot ryke klein, kwasi-republikeinse gemeenskappe bestaan het. Na die val van die Romeinse Ryk in die 5de eeu na Christus het opvolgryke soos die Bisantynse Ryk, die Frankiese Ryk, die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie en ander Europa tydens die Middeleeue beheer. Bygesê het binne die Heilige Romeinse Ryk talle vrystede bestaan wat ʼn vorm van republikeinse stadsregering gehad het, al het die keiser formeel die oppergesag gehad. Ook buite Europa was die groot Ryke soos die Persiese Ryk, die Osmaanse Ryk, die Russiese Ryk, die Sjinese Ryk, die Japannese Ryk ensovoorts die reël.

Eers in die tyd van die Renaissance, juis weer in Italië, het die republiek weer sy verskyning gemaak. Dit was tipies handelstede met ‘n sterk klas van sakemanne soos Genoa, Milan, Venisië, Florence, Pisa en ander wat stadsrepublieke was. Om hulle na buite te beskerm, het hulle onder mekaar federasies gevorm, met sowel die doel om die handel en hulle politieke vryheid te beskerm, byvoorbeeld die Lombardiese Liga. Ook in die gebied van die Baltiese See het sterk, selfstandige en trotse stadstate met ʼn republikeinse regeringsvorm na vore gekom wat saamgebind was in die Hansa as alliansie om hulle belange te beskerm. Polities was die Italiaanse stadstate baie soos die Romeinse Republiek georganiseerd, met verskillende stande of klasse (hoë adellikes, lae adellikes en welvarendes, en die gewone mense). Elke stand het sy eie verteenwoordigende liggame gehad met hulle voorsitters wat verskillende funksies vervul het. Oor tyd het sekere families meer en meer mag in hulle hande gekonsentreer (soos die bekende Medici in Florence) en sekere leiers mag in hulle hande gekonsentreer. Die Italiaanse stadsrepublieke (en die stede van die Hansa) was kultureel gevorderd en toonaangewend, ekonomies voorspoedig en ‘n trotse burgery wat die kunste bevorder het, kon ontwikkel. Die koningryke daarteenwoor het gewoonlik alle mag in die hoofstede gekonsentreer, kuns was veral deur en vir die koning en daar het ‘n groot gaping tussen adellikes en gewone mense bestaan. In die tyd is die konsep van republikanisme ook deur Italiaanse denkers bevorder. Republieke was egter nie beperk tot Italië nie. Switserland was een van die eerste republieke in Europa tydens die Renaissance met ʼn sterk federale en demokratiese charakter. Na die samesluiting van die drie oerkantons in 1307 het Switserland oor die volgende sowat 200 jaar talle oorloë teen die Habsburgryk geveg tot dit sy huidige grootte bereik het.

Daar was ook die Nederlandse Republiek van 1581 tot 1795, wat ‘n federasie van provinsies met sterk selfregering was. Die Nederlanders kon na ‘n lang vryheidstryd, waarin geloof ‘n wesenlike rol gespeel het, hulle onafhanklikheid van Spanje bereik. Nederland se goue era, met ‘n opbloei in die ekonomie, veral die seehandel en ook ‘n opbloei in die kunste, val in die tydperk. Dit is nogal van betekenis vir die latere vorming van die Afrikaners, dat hulle voorouers uit ‘n land met ‘n republikeinse tradisie en ‘n vryheidstrewe kom (meer daaroor in deel 2). In die tyd van die Reformasie het ook godsdienstige republieke ontstaan soos die een van Johannes Calvyn in Genève in Switserland. Republieke was egter die uitsondering, en in die 16de eeu en daarna het die sentralistiese, absolute monargieë, met Frankryk as beste voorbeeld, die langdurigste staatsvorm geblyk.

Van die Verligting tot die huidige tyd

In die 18de eeu, in die era van die Verligting en met die opbou na die Franse Revolusie, het denkers soos Jean-Jacques Rousseau en Monesqiueu ‘n betoog vir die republikeinse staatsvorm gelewer. Hulle het die Griekse stadstate as voorbeeld gestel en was ook aanhangers van die destydse republikeinse eksperiment (wat selfs vir die eerste keer vrouestemreg ingesluit het) op die eiland Korsika (1755-1769). Hulle het egter, miskien tereg, erken dat republikanisme werk vir klein gemeenskappe, maar nie kan werk vir ‘n groot, territoriale staat soos Frankryk met destyds 20 miljoen inwoners nie. Hier sou ‘n konstitusionele monargie die aangewese vorm wees.

Die Verenigde State van Amerika was die eerste suksesvolle republiek aan die einde van die 18de eeu, terwyl die Franse Republiek wat deur die revolusie teweeg gebring is, vinnig in ‘n diktatorskap ontaard het. In die Amerikaanse Grondwet van 1789 (ook die jaar van die Franse Revolusie) is die beginsels van federalisme, verdeling van magte, burgerlike deelname en gewaarborgde regte vervat. Amerikaanse republikanisme het ‘n sterk invloed op Latyns-Amerika gehad, waar na die bevrydingstryd van 1810 – 1821 talle republieke ontstaan het. Die golf het egter nie oorgespoel na Europa nie, waar feitlik alle lande deur konings regeer is, veral na die oorwinning oor Napoleon en die tyd van restourasie. Bestaande republieke soos diegene in Italië is by groter ryke ingelyf. Selfs Frankryk het weer terug geval op die monargie.

Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) en die groeiende internasionale invloed van die VSA het veel bygedra tot die val van monargieë en die stigting van kleiner, meesal etnies gedefinieerde republieke. Die proses het ook, na die kortstondige opkoms van diktatorskappe, na die Tweede Wêreldoorlog en die dekolonisasie voortgegaan. Feitlik alle voormalige kolonies het republieke geword (dikwels ongelukkig slegs in naam republike, en in praktyk diktatorskappe). Suid-Afrika is ‘n voorbeeld van die konstitusionele ontwikkeling weg van die bande met die Britse monargie heen tot ‘n republiek (meer daaroor in deel 2). Die beginsel dat alle volwasse burgers aan die politieke proses moet kan deelneem, direk of indirek, is vandag in ‘n groot mate internasionale konsensus, ook danksy die dominerende rol van die VSA (en meer nog sedert die val van Sowjet-kommunisme). Selfs die lande wat hulle konings behou het, het hulle magte afgeskaal tot seremoniële hoofde. Kommunistiese “volksrepublieke” soos Sjina, Vietnam, Kuba en Noord-Korea is op papier ook republieke, maar in praktyk diktatorskappe. Hulle model is egter in die gedrang.

Geskryf deur Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply