Ek het onlangs op die Franse filosoof Michel Onfray en sy opstel “Decolonise les provinces” (Dekoloniseer die platteland) afgekom. Sy opstel is in April vanjaar gepubliseer, veral met die oog op die presidentsverkiesing, maar is nog net so geldig.

Onfray is ‘n Normandiër en trots daarop, iets wat hom onderskei van talle filosowe wat in Parys woon, globaliste in hulle leefwyse is en met die sentrum vereenselwig. Hy kritiseer in sy boek dat Frankryk nog altyd ‘n sentralistiese benadering tot alles gehad het. Die mag en die elite is in die hoofstad Parys gesetel en kyk neer op die platteland. Die staat is alles: hy maak die wette, hy is gesetel in die hoofstad, hy delegeer bevoegdhede en die belastinggeld. Dit was nog deurentyd so in die Franse geskiedenis. Frankryk was vir ‘n groot deel van sy bestaan, by name tydens die absolutisme onder die Franse konings van die 16de tot 18de eeu, sterk sentraal beheer. Alle mag was in die koning gesetel, wie se sentrale beheer deur middel van ʼn hirargiese burokrasie tot in die uithoeke van die land gestrek het. Kenmerkend daarvan was die bekende uitspraak van Lodewyk XIV, “l’etat c’est moi” (ek is die staat). Daar het ook nie werklik ‘n wesensverandering na die Franse Revolusie van 1789 plaasgevind nie. Die koning is verwyder en die mag deur ‘n soort junta, die Welsynskomitee, oorgeneem, met kortstondige diktators soos Robespierre en ander van die radikale Jakobynse Party. Die revolusie, die moderne Frankryk se “stigtingsmite”, het eintlik sentrale beheer net verder versterk en die ware, revolusionêre bewegings vanuit die platteland, wat Frankryk wou desentraliseer, as “kontrarewolusionêr” onderdruk. ‘n Bekende voorbeeld is die opstand in die Gironde-streek (die omgewing van Bordeaux) vir meer seggenskap van die provinsies en die platteland en teen die tirannie van Parys, wat bloedig deur die Jakobyne onderdruk is. Frankryk het toe die geleentheid verspeel om na eeue van ʼn absolutistiese monargisme werklike demokrasie in te stel. Eintlik is die monargie net deur ‘n kortstondige sosialistiese diktatorskap van die Jakobyne vervang, wat weer gelei het tot ‘n herstel van die monargie onder Napoleon Bonaparte en sy opvolgers.

Ook vandag se Frankryk, die Vyfde Republiek, wat deur president Charles de Gaulle met die grondwetshervorming van 1958 gevestig is, is in wese sentralisties. Aan die aard van sentrale beheer en konsentrasie van mag in ‘n elite en in die hoofstad het niks verander nie. Die president is ‘n hedendaagse koning en alle presidentskandidate van die onlangse Franse verkiesing is volgens Onfray “Jakobyne”, wat glo aan ‘n sterk, sentrale staat wat alles moet reguleer en regruk. Onfray bepleit daarteenoor die versterking van gemeenskappe, dorpe, die platteland en die provinsies deur die oordrag van mag na die grondvlak toe, om op die manier Frankryk her op te bou en die besluitneming te desentraliseer.

Wat Onfray kritiseer, strook met die werklikheid. Hy kon self beleef hoe sy geboortedorp Ornay in Normandië, in die 1960’s nog ‘n lewende gemeenskap, vandag feitlik ‘n spookdorp is. Die dikwels geromantiseerde platteland van Frankryk sterf al lankal, maar sedert die administratiewe hervorming van president Nicholas Sarkozy (2007-2012) is nog meer bevoegdhede van die klein dorpe weggevat en gesentraliseer. 75% van die land se welvaart word in 15 groot stede gegenereer, terwyl nog steeds sowat 60% van Frankryk se bevolking in die platteland woon. Die toenemende magsoorname en sentralisasie deur die Europese Unie, nog verder van die grondvlak verwyder as die regering in Parys, vererger dinge verder.

Minder en minder Franse wil nog in die werklike plattelandse dorpe bly omdat die lewe daar agteruitgaan, werkloosheid hoog is, winkels en restourante sluit en ou geboue verval. Die regering vererger die proses deur ontwikkeling en behuising in stede en voorstede te befonds en nie in die plattelandse dorpe nie. Party besonder pittoreske dorpe oorleef danksy toerisme, maar dit het weer negatiewe effekte van ‘n ander aard en dryf dikwels die siel uit ‘n dorp en verander sy struktuur, al word die geboue behou. In die dele waar toeriste gewoonlik verbyry, soos die voorheen industriële noord-ooste, is die situasie besonder erg.

Die tendens wat in Frankryk aanwesig is, is in meeste Westerse lande in ‘n mindere of meerdere mate aan die gang en is ook in Suid-Afrika sigbaar. Ook die Suid-Afrikaanse regering is in ‘n groot mate “jakobyns” en glo aan meer en meer sentralisasie en beheer. Die ANC se administratiewe hervorming, om verskeie klein dorpe saam te voeg en die administrasie te sentraliseer, het tot dusvêr bykans net negatiewe gevolge gelei soos die ineenstorting van strukture en dienste waar dit nog gewerk het, omdat onvolhoubare nedersettings by werkende dorpe en stede ingegooi word. Die verval van plattelandse dorpe versnel al hoe meer en net enkeles oorleef as toeriste- en kunstenaarsdorpe as hulle in ‘n mooi omgewing geleë is. Vir die ander is daar geen strategie nie, behalwe om die administrasie nog meer te sentraliseer en rade te vergroot. Dit word alles gedoen namens “die mense” of “die volk”, en die werklikheid maak eintlik ‘n bespotting van ANC-slagspreuke soos “building beter communities” of “power to the people” (Amandla Ngawethu).

Deur Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply