Ons volkstaters moet seker soos Jeremia voel: ons sien hoe ons voorspellings van vernietiging, waarvoor ons destyds verwyt is, waar word.

Ons put geen genot daaruit nie, want dit breek ook ons hart om te sien hoe dit wat kosbaar en deel van ons erfenis is, te gronde te sien gaan. Party word doelbewus vernietig, ander gaan weens nalatigheid ten gronde. Al is ons in Orania en sien dit as alternatief tot Suid-Afrika en is bereid om daarvoor op te offer, is daar nog steeds ʼn band met Suid-Afrika en veral die Afrikaner- en Westerse erfenis. Ons het geweet dit gaan kom en ons word al jarelank deur gebeure en voorspellings daarop voorberei, nogtans skrik ʼn mens as dit werklik gebeur, want dit maak nog steeds seer.

Dit help niemand om nou triomfantlik te verkondig: ”Ons het julle mos gesê dit gaan gebeur, al in 1983, 1992, 1994, 1999, 2009…” Immers is diegene wat nou sien hoe hulle naïewe optimisme aan flarde is, ons mense wat ons wil bereik en wat ons nodig het. Ja, hulle was verkeerd en het gekeer dat die Afrikaner al vroeër, met meer mag, invloed en geld, die skip in die regte rigting stuur. Ongelukkig glo meeste mense dinge eers as hulle dit voor hulle oë sien ontvou. Daar moet eers ʼn woedende skare deur ʼn dorp soos Coligny storm en alles links en regs afbrand, of ʼn historiese kleinood soos die stadsaal van Bloemfontein deur ontevrede munisipale werkers vernietig word, of die Boland se wingerde afgebrand word, voor mense besef dat ʼn Afrikaanse, Westerse beskawing nie kan voortbestaan sonder politieke beheer nie. Dan praat ons nog nie van al die plaasmoorde, waarmee nie net ontsettende pyn en lyding gepaard gaan nie, maar waarmee ook elke keer ʼn stuk plattelandse Afrikaanse beskawing vernietig word.

Pleks om met leedvermaak te sê “ons was reg” sê ons eerder: “gelukkig het ons daarom al jare terug iets aan die saak gedoen, juis omdat ons geweet het dit gaan gebeur.” Ons hoef nie heel voor te begin nie, die fondasie is al gelê. Party wonder nog, ander stry oor die wat en waar en hoe, ons (bedoelende die volkstaters) het darem al Orania 26 jaar gelede gestig. Orania is nog klein, maar dit is daar. Die nuwe vrugtebome is oorgeplant voor die groot brand die hele plantasie vernietig het. Ons het tyd gekoop. Diegene wat wil help bou is baie welkom, ongeag waar hulle in die verlede gestaan het.

Die fondasie waarop ons bou moet egter die regte een wees. Wat is die regte fondasie en hoekom glo ons dat ons iets anders doen as in die verlede? Ons fondasie is konsentrasie, eie arbeid en beheer oor ons eie dinge. Bo alles is Orania ʼn daad van geloof, ʼn uitkoms in tye van krisis. Dit is meer as om net soos ʼn drenkeling die naaste plank te gryp om nie te verdrink nie, dit is die begin van ʼn nuwe Afrikaner-beskawing, terwyl die ou een voor ons oë vernietig word. Ons beweer nie dat ons besonder begenadig of spesiaal is nie, maar wel dat ons gelei is om geleenthede aan te gryp, in die onlangse verlede en ook nou.

Ons situasie herinner aan die van die Heilige Benediktus van Nursia aan die einde van die Romeinse Ryk, om en by 600 na Christus. Toe hy in Rome was met die idee om daar te studeer, moes hy ervaar hoe vervalle, maar ook moreel verrot die einste middelpunt van die wêreld was. Hy het hom met volgelinge wat die beskawing en veral die Christelike godsdiens in beskerming wou neem, onttrek na ʼn klein dorp in die berge en daar ʼn klooster gestig, waaruit die wêreldwye Benediktinerorde ontstaan het. Dit was een van die voorvereistes vir die herlewing van beskawing in die Middeleeue, op ʼn sterk Christelike grondslag.

Bron: Orania Blog
Skrywer: Sebastiaan Biehl


Leave a Reply