Op 31 Mei het belangrike gebeure in die Afrikaner se geskiedenis plaasgevind.

Die bekendste een is seker die stigting van die Republiek in 1961, maar die eerste groot en eintlik besonder hartseer gebeurtenis was die Vrede van Vereniging wat op 31 Mei 1902 onderteken is en waarmee die Boererepublieke Transvaal en Oranje-Vrystaat hulle vryheid verloor het.

Dit was geen vrede met blydskap en triomf nie, maar met bitterheid en in die aangesig van derduisende vermoorde vroue en kinders en honderde afgebrande plase. Daarom staan die dag ook as Bittereinderdag bekend, om die te eer wat tot die bitter einde toe uitgehou het en word as sulkes in Orania herdenk. Nogtans markeer die dag nie net neerlaag nie, maar ook die begin van ‘nOx wagon 2 proses van heropstanding uit die as. Dit moet vir huidige geslagte Afrikaners wat in sak en as sit oor die verlies van mag en oor die onvermoë om die verval van alles wat vir ons mense kosbaar is te stuit as inspirasie dien. Die omstandighede is natuurlik vandag anders as in 1902, maar eintlik was die Afrikanervolk destyds meer teen die grond en het minder rede tot hoop gehad as vandag.

In Orania word die dag op ‘n gewyde manier herdenk, met ‘n besoek aan die nabye Oranjerivier-konsentrasiekampterrein, waar die grafte van vroue en kinders skoongemaak word en blomme ter ere van hulle offers op die grafte gesit word. Daarby word ook die lyding van destyds deur historiese vertellings en die besoek van die museum en die herinneringsmuur in herinnering geroep. Dit is ‘n gewyde en hartroerende geleentheid, maar die ontspanne saamkuier na die tyd op egte Boeremanier ontbreek nie. Immers gaan dit ook oor die huidige Afrikanervolk wat wel moet onthou, maar wat na die toekoms kyk en wat ten spyte van lyding en groot verliese nog hier is en wat nog geslagte lank hier wil wees.

Vanjaar het daar behalwe die gebruiklike besoek aan die Oranjerivier Konsentrasiekamp nog ‘n gebeurtenis plaasgevind, naamlik die trek van ‘n mooi versierde ossewa van Orania padlangs tot by die uitspanning in ‘n wildreservaat, sowat 3 kilometers ver. Inwoners het meegedoen en die wa help trek en stoot en ‘n konvooi voetgangers en motors het gevolg tot by die uitspanning. Daar is gemmerbier en boerebrood genuttig en saamgekuier. Dit was ook simbolies dat die Oraniërs saam die wa kan trek en saam vorentoe gaan. Die bekende klagte in Afrikanergeledere “ons kan nie saamstaan nie (omdat ons nie almal een leier, een party en een kerk het nie)” word op Orania verkeerd bewys. Ons kan saamstaan vir ‘n gedeelde ideaal.

Die Uitspanning is ‘n inisiatief van Hester en Christiaan van Zyl om ‘n ossewalaer te skep waarin mense kan oornag om iets van die atmosfeer van die Groot Trek te beleef. Verskeie mooi versierde waens wat deel was van die 1988 Gedenktrek staan reeds daar. Die Uitspanning verblyfplek in die natuur sal ‘n unieke kulturele terrein en toeristeaantreklikheid wees. Terwyl op ander plekke die voetspoere van die Afrikaners doodgevee word of deur die winde van verandering weggewaai word, word hier op Orania weer penne ingeslaan en letterlik nuwe (ossewa)spore gelaat.

Bron: Orania Blog
Geskryf deur Sebastiaan Biehl


Leave a Reply