100 jaar gelede is die sogenaamde Balfour-verklaring uitgereik, wat as die eerste impuls vir die stigting van die latere staat Israel in 1948 geld. Dit is vernoem na Sir Arthur Balfour, die Britse Minister van Buitelandse Sake tydens die Eerste Wêreldoorlog en ‘n ervare en langdurige parlementslid van die Konserwatiewe Party en selfs op ‘n tyd Eerste Minister van Brittanje.

Balfour het in ‘n kort brief aan die verteenwoordiger van die Zionistebeweging in Brittanje, Walter Rothschild, die standpunt gestel dat die stigting van ‘n Joodse tuisland in Palestina die goedkeuring en steun van die Britse regering geniet. Daar was wel die beperking dat die Joodse vestiging in Palestina nie die bestaande Arabiese inwoners moet ontwrig en benadeel nie. Vir Balfour en Brittanje was die doel met die verklaring om die invloedryke Joodse gemeenskappe in Brittanje, die VSA en elders vir die oorlogspoging teen Duitsland en sy bondgenote te mobiliseer. Vir Rothschild was die brief van Balfour die beste nuus in ‘n baie lang tyd en dit het stukrag gegee aan die poging om meer en meer Jode uit verskeie Europese lande en die VSA in Palestina te vestig.

Die steun deur Brittanje was veral belangrik omdat dié land die mandaat oor Palestina sou kry. Ongelukkig het Brittanje op sy kenmerkende manier probeer om almal aan sy kant te hou en om beloftes te maak wat wedersyds uitsluitend was, want ook die Arabiere in die streek was bondgenote. Dit was alles die gevolg van die skommelinge van die Eerste Wêreldoorlog: Palestina was deel van die uitgestrekte, maar militêr swak Osmaanse Ryk, ‘n bondgenoot van die Sentrale Moondhede (die Duitse Ryk, die Oostenryk-Hongarye en ander) en dus ‘n vyand van Brittanje (wat saam met Frankryk, Rusland en ander deel van die Entente was). Brittanje het, met Thomas Edward Lawrence as hulle verbindingsoffisieer op die grond (die legendariese “Lawrence van Arabië”) ‘n Arabiese nasionalistiese opstand aangevuur en het aan die Arabiere, ‘n onderdrukte volk binne die Osmaanse Ryk, die belofte gemaak van ‘n verenigde Arabiese staat na die val van die Osmaanse Ryk. Terwyl Lawrence egte simpatie met die Arabiere gehad het en hulle strewe na selfstandigheid gesteun het, was hulle vir die diplomate in Londen net pionne om ‘n doel te dien, naamlik om die Osmaanse Ryk te verswak. Terselfdertyd het Brittanje en Frankryk met die Sykes-Picot ooreenkoms die Midde-Ooste tussen hulle in invloedsones opgedeel. Palestina, met die hoogs simboliese stad Jerusalem, wat ‘n maand na die Balfour-verklaring deur Generaal Allenby verower is, het deel van de Britse invloedsfere geword. Volgens die Arabiese vertolking sou Palestina egter deel van hulle Arabiese staat wees en hulle het verraai gevoel.

Vir die Jode en die Zionistebeweging was die Balfour-verklaring die groen lig en die vooruitsig dat hulle idee van ‘n Joodse tuisland nie net ‘n droom was nie, maar die steun van die destyds magtigste land gehad het en dus haalbaar was. Die vestiging van Jode het gedurig toegeneem en die Arabiere, aanvanklik die oorweldigende meerderheid, het begin ongemaklik raak en aanvalle op Joodse setlaars het toegeneem. Nogtans kon Israel in 1948 sy onafhanklikheid verklaar (nadat Palestina tussen Jode en Arabiere gedeel is) en die Balfour-verklaring word telkens as die hoeksteen daarvoor gesien. Vir Lord Balfour se bekendheid het daardie kort brief meer beteken as al sy jare in hoë politieke ampte.

In die 1990’s, toe Orania begin is en die Vryheidsfront (VF) sterk vir Afrikaner-selfbeskikking gestaan het, is daar dikwels gepraat oor die hoop vir ‘n soort Balfour-verklaring deur president Mandela om die groen lig te gee vir die besetting en ontwikkeling van die aangewese volkstaatgebied tussen Oranjerivier en Weskus. Vir meeste Afrikaners was dit baie belangrik om te weet dat hulle nie iets ondersteun wat onwettig is nie. Mnr. Mandela het altyd vaag gebly oor ‘n volkstaat. Die naaste wat die volkstaters aan ‘n Balfour-verklaring gekom het, was die uitspraak van minister Valli Moosa in 1998, dat na mening van die Suid-Afrikaanse regering “die strewe deur die VF en ander Afrikaners na die ontwikkeling van die land as ‘n “tuiste” vir die Afrikaner-taal en -kultuur binne die raamwerk van die Grondwet en die Handves van Menseregte inderdaad ‘n legitieme strewe is”. Ook artikel 235 van die grondwet, wat voorsiening maak vir die idee van selfbeskikking, ook territoriaal, is deur mnr. Moosa bevestig, alhoewel die artikel nog nooit in wetgewing vervat is nie. Die Valli Moosa verklaring het egter geen noemenswaardige uitwerking op die trek van Afrikaners na die aangewese gebied gehad nie. Trouens, die verkiesing van 1999, nie lank na die Moosa-verklaring nie, was ‘n terugslag vir die Vryheidsfront en het die volkstaatstrewe eers van die politieke agenda afgehaal. Die pioniers van Orania het egter onverpoosd voortgebou, ongeag van politieke verklarings, en uiteindelik was dit belangriker vir die volkstaatvestiging as enige Suid-Afrikaanse Balfour-verklaring.

Deur: Sebastiaan Biehl/Orania Blog


Leave a Reply